
Orin Scott se vrolike prentjie van die nagtelike petalje in Northcliff
Ton Vosloo is een van daardie mense wie se naam jy maar op ‘n koerantplakkaat kan sit. Noem selfs net die naam “Ton” en almal sal dadelik weet van wie jy praat (soos Mandela en in vorige tye ook Naas!)
Wat miskien nie so wyd bekend is oor Ton Vosloo nie, is dat hy op Saterdag 29 September sy 75ste verjaardag vier. “Ton al 75?” hoor ek in my verbeelding mense vra. Maar natuurlik hoef ‘n mens nie op 75 jou vonk te verloor het nie!
In elk geval ek weet dat vir die bakenverjaardag van my jarelange vriend, kollega en baas uit allerlei oorde verrassings beplan word. Ek sal nie geheimpies verklap nie. My eie hulde is vervat in die eerste hoofstuk van my blogboek “Lewensgroot en Groter”” onder die opskrif “Onverskrokke verspieder”.
Die hoofstuk is, op sy beurt, wesenlik gegrond op my huldeblyk in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is. Ek plaas dit vervolgens graag op my blog, in twee opeenvolgende aflewerings:
ONVERSKROKKE VERSPIEDER
AMPER 35 jaar gelede het ek die eerste keer ‘n ietsie oor Ton Vosloo geskryf. Dit was vir “Beeld” se huisblad, ná ‘n nagtelike eskapade met die bure se brak.
Een nanag in Mei 1978 word ons jong redakteur – nou al lank voorsitter van Naspers en op die drumpel van 75 – gewek deur ‘n gedoef-doef wat knaend aanhou. Dit tref hom dat die geluide kom uit die rigting van sy Northcliff-bure se swembad – nogal agterdogwekkend in ‘n Transvaalse winternag.
Ton wikkel hom in sy kamerjas, spring oor die heining en kom af op die arme brak – al gedaan gespook om uit die greep van die Kreepy-Krauley se seekat-arms te kom. Onse held spring dadelik in die yskoue water in en red die dankbare hond.
Dié anekdote word nie opgerakel as kapstok vir ‘n ontleding van Ton se affiniteit of gebrek daaraan vir die ordinêrste variasie van die spesie canis, die gewone werfhond, nie (al sou ‘n mens dié persbaas se lewenslange vrugbare verhouding met die spesie nuushond dalk vindingryk met daardie heldedaad kon verbind!)
Nee. Ek glo daardie insidentjie is relevant omdat dit lig werp op eienskappe van die man wat deurslaggewend in sy latere verrysenis was. Ons leer Vosloo ken as die onverskrokke verspieder wat hom nie deur heinings sal laat stuit om te weet presies wat in sy wêreld aangaan nie, en as die energieke doener wat berekend sy doel najaag, kom wat wil.
Hierdie vreesloosheid het hy ook in sy kantoor in die lelike ou “Beeld”-gebou in Doornfontein geopenbaar. Hy het vinnig soveel energie, dinamiek en broodnodige dissiplines in daardie sukkelende nuwe dagblad van die Pers gepomp dat dié weldra op koers kon kom. Ton Vosloo het daarmee as’ t ware nog ‘n potensiële verdrinking in die Noorde gestuit!
Ek sal nie daarop roem dat ek die eerste of een van die eerstes was wat die besielende redakteur van “Beeld” as uitstekende opvolg-materiaal vir Lang David de Villiers geïdentifiseer het nie. By ‘n laataandbraai langs die Zambezirivier op ‘n weermaguitstappie in 1982 (gedenkwaardig gemaak deur Twakkies Laubscher van “Beeld” se nagtelike stormlopie rivier toe om sy Skotse watertjie met Zambezi-watertjies te verdun) het ek egter kollegas nogal met dié insig verras.
Kort daarna, op 1 Maart 1983, is Theunissen Vosloo as adjunk aangestel. Hy het nie weer teruggekyk nie.
* Vervolg in ‘n volgende blog in hierdie ruimte.
Комментарии