Die Afrikaansdebat het opnuut opgevlam. Idees oor wat die toekoms van ons taal is, kan wees en behoort te wees, kom uit alle oorde, en is soms nogal sterk uiteenlopend. Terwyl ons in raadskamers sit en slim wees, mors Afrikaanssprekendes egter self soms maar liederlik met hul taal. Die joernalis Anastasia de Vries – spreker van die Kaapse variant van Afrikaans – het op n keer gevra: “Het dit nog sin om groot taalgevegte aan te pak as ‘n mens hoor wat die mense op voetsoolvlak dikwels daarvan maak?”
Dit is ‘n geldige vraag. Ons het só laks geword dat ons nie eens meer agterkom as mense met die taal mors nie. Ons aanvaar maar sy lot met gelatenheid. Daardie toleransie bereik gevaarlike vlakke as dit hom daarin manifesteer dat kerkrade nie meer hul dominees uitruk of hoofde hul onderwysers of redakteurs hul joernaliste wat Afrikaans verknoei nie. Almal wals maar saam in hierdie Hartseerwals van Afrikaans.
Koerante het in die jare 80, in my tyd, te midde van enorme politieke verskeurdheid rondom Afrikaans gekonsolideer. Ons taal kan ook nou ‘n magtige samesnoerende krag wees, glo ek. Maar dan sal ons ook by daardie mense op voetsoolvlak moet uitkom. Klaarblyklik is ‘n kopskuif is nodig wat hulle in ons ideale vir Afrikaans inbind. .
Afrikaanssprekendes oor die hele spektrum sal op ‘n manier weer trots gemaak word op Afrikaans en lus gemaak word om hom weer te troetel soos die taaltrotse Franse Frans troetel. Afrikaans moet – in die woorde van P.G. du Plessis – sy trots herwin. Sy sprekers moet, in die klinkende titel van Jaap Steyn se magnum opus, ‘n “tuiste in eie taal” vind.. Die bestaande toleransie vir mense wat die taal willens en wetens besoedel/verknoei/vermoor, moet wyk.
Waar om te begin?
Alle instansies wat Afrikaans wil bevorder, sal onderlinge aksentverskille, eie agendas en eie ego’s moet vergeet, glo ek. Hulle behoort ‘n ketting te vorm. Dan kan ons gekonsolideerd en gestruktureerd begin werk aan aksies, projekte en idees.
Een konstruktiewe aksie is die Vriende van Afrikaans se boekedag met die tema: Koop vandag ‘n Afrikaanse boek. Kan dit nie uitgebou worde tot ander terreine nie? Dr Matthews Phosa het ‘n keer laat val hy en baie van sy mede-strugglers “…sal toi-toi as Afrikaans verneder of benadeel word.” Laat ons dan toi-toi as dit moet! Om ‘n kampvuur het ek die idee gehoor dat ons ophou om “please” en “thank you” te sê. Ons kap daardie Engelse woorde uit ons woordeskat. Ons sê net “asseblief” en “dankie”, soos die Franse “silvous plaiz” en “merci” sê – diegene wat nie weet wat dit beteken nie, sal gou agterkom, en sommer ook agterkom dat Afrikaans ‘n vriendelike taal is – nie net ‘n raas-taal of baklei-taal nie.
Een-een sal geen aksie egter die brug laat bewe nie.
Ons het ‘n span nodig wat op al sy silinders vuur – ‘n span met impakspelers wat ‘n verskil kan maak. Ons het ‘n vereniging of klub nodig in elke stad en dorp in die land. Een van daardie span se eerste uitdagings sal wees om, in die idioom van die dag, die persepsie te swaai dat dit die “bad guys” is wat besorg is oor Afrikaans. Tong in die kies: Dalk moet ons die regte “bad bad guys” aan die kaak stel soos die modekenners jaarliks die tien swaksgekledes vroue aan die kaak stel en die besgekledes ‘n pluimpie gee.
Moet iemand met aansien nie die voortou neem om die tien vrotste Afrikaanspraters in Afrikaanse geledere en die tien beste jaarliks by die naam te noem nie?
Dalk is die idee nie só tong in die kies nie (HvD)
* Geneem uit ‘n toespraak voor die Afrikanerklub in Bloemfontein in 2007.
Comments