Toekoms van die Boekeblaaie
In die afgelope week het joernaliste by Media24 gehoor dat hul getalle verminder gaan word. Dit raak joernaliste by Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. My meegevoel aan almal wat nou in onsekerheid lewe.
Volgens joernaliste is daar groot twyfel oor presies wat gaan gebeur met die boekeblaaie van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport. Dit is iets wat my werklik kwel.
Bekyk die saak só: As ek ‘n digbundel publiseer kan ek reken daarop dat daar resensies sal verskyn in Die Burger, Beeld, Volksblad, Rapport en Boeke-Insig. Dalk sal daar ook kennis geneem word in die Mail & Guardian en met ‘n buitekans die Pretoria News. Geen resensies in die tradisionele sin van die woord word geplaas in Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose nie. Die Tydskrif vir Letterkunde is deur Hein Willemse oorgegee aan besprekings van dinge wat vir die Afrikaanse letterkunde absoluut geen waarde het nie.
Na dese lyk dit na ‘n sterk moontlikheid dat daar net een boekeblad uit die Media24-stal van koerante sal wees. My digbundel sal dus een behoorlike resensie kry (as ek gelukkig genoeg is dat die boekeredakteur ‘n gepaste resensent kies) en moontlik een in Boeke- Insig. Dis waarop ek kan reken. Die res is bonus.
Gestel my digbundel kry ‘n negatiewe resensie by Media24 se gesamentlike boekeblad. Waar laat dit my? Al kom mense later tot hul sinne en gee my die Hertzogprys vir die bundel, daardie een resensie sal reeds sy uitwerking gehad het en die uitgewer sal al sit en planne maak om die pakhuis se rakke leeg te kry en my bundeltjie te verpulp of weg te gee teen die tyd wat die SA Akademie my salf.
Kry ek ‘n positiewe resensie, is alles natuurlik lekker en orraait. Maar PG du Plessis en Deon Meyer sal jou vertel dat mens nie altyd daarop kan reken nie.
Naspers het in die verlede gesorg dat sy koerante die aktiwiteite van
sy uitgewerye ondersteun. Publiseer jou boek by Naspers, en jy sal op
die hande gedra word by die koerante. Dinge het verander. Naspers is
‘n sambreel-organisasie, en Media24 huisves boeke en koerante. Is
Media24 besig om nou die rug te keer op Afrikaanse skrywers?
Komentar