top of page
  • Uitmelkbos

Tjorrelpos

Uit die pen van ‘n Suid-Afrikaanse “grapjas” met ‘n reputasie vir vuilbekkigheid het per e-pos ‘n stuk by my aangekom wat enige ordentlike rekenaar sou laat bloos – om nie van die rekenaar se baas te praat nie. Hierdie ontvanger het dit vinnig uitgewis.

Oor die identiteit van die outeur trek ek maar die sluier. Hy het baie bewonderaars wat seker saam met hom glo dat enige publisiteit beter is as geen publisiteit. Ek wil nie graag in hul oe die rol van “nuttige idioot” speel om sy “roem” te help uitdra nie.


Die man se galbrakery is wel in ‘n onsmaaklike vorm gegiet, maar met die rede vir sy wrewel het ek (en ek glo ook die verspreider van die e-pos) nogal simpatie. Hy het dit teen daardie uitmergelende stroom tjorrelpos vir die massamark wat so uit alle oorde soos stortreën op ‘n mens se skerm uitsak. Sjoe, hy draai nie doekies om oor hoe hy dit verpes nie.


Natuurlik kry ‘n mens ook wonderlike e-posse wat vir jou iets beteken. Jy is dankbaar oor hulle en jy versprei hulle graag verder om vriende in te lig of te vermaak of ander te probeer help. Hoop nie vriende verstaan my verkeerd en datna dese daardie stroom van lekker e-posse nou opdroog nie!


Wat ‘n bose boel betref, wens ek egter daar was iewers ‘n waterdigte kraantjie wat ek kan toedraai – enigiets net om te ontsnap aan die spul nuttelose inligting waarmee jy dag vir dag gebombardeer word. Selfs nog erger is daardie wat op jou gevoel peel of jou probeer uitlok om ‘n gek van jouself te maak. “Stuur net R200 binne twee weke aan …”


Ek wonder hoeveel mense val vir die allerlei simpele pogings om munt te slaan uit die ou mensdom se nuuskierigheid/onnoselheid/ naïwiteit. Seker heelparty – anders sal dit ophou. En die variasies is werklik verstommend. Soms kry ek ook lus om met ‘n kragwoordjie of twee te reageer.


Humor is egter sonder uitsondering ‘n beter wapen as skel. Hier volg nou ‘n stuk van ‘n naamlose iemand, gerig aan “liewe almal”, wat met humor die onderwerp van e-gemorspos by die horings pak. Geniet dit:

“Liewe Almal

Dankie aan almal wat e-pos aan my gestuur het die afgelope jaar…..

Ek moet die een wat my daai ding oor die rottepoef op die gom van koeverte in stoorkamers gestuur het bedank, aangesien ek nou ‘n nat lappie gebruik om elke koevert nat te maak. Ek vryf nou ook die bokant van elke koeldrankblikkie deeglik blink voor ek dit oopmaak om dieselfde rede.

Ek het nie meer enige spaargeld oor nie want ek het dit vir ‘n siek meisie (Pennie Ferreira) gegee; wat nou al vir die 1 345ste keer op sterwe in die hospitaal lê.

Ek het nie meer geld nie, maar dit gaan alles verander as ek daai R20 000 kry wat Bill Gates/Microsoft my gaan stuur omdat ek aan hulle e-pos veldtog deelgeneem het…..of as daardie Nigeriese bankbestuurder wat skatryk geërf het, daai R7 miljoen met my gaan deel sodra hy die geld kan kry om die fondse los te laat kom.

Verder is ek nie meer bekommerd oor my sieleheil nie, want ek het 200 472 engeltjies wat my oppas.

Ek gebruik nie meer kankerwekkende reukweerders nie al ruik ek soos ‘n vlakvark in ‘n moddergat op ‘n warm dag.

Danksy julle,

Het ek geleer dat my gebede slegs verhoor word as ek ‘n e-pos aan sewe van my vriende stuur en binne vyf minute ‘n wens, wens.

As gevolg van julle besorgdheid drink ek nie meer Coca-Cola nie omdat dit toiletvlekke kan verwyder en ontplof as jy dit met Mentos meng.

Ek gaan ook nie meer vulstasie toe sonder om iemand saam te neem om seker te maak dat ‘n reeksmoordenaar nie agter in my agtersitplek in kruip terwyl ek nie kyk nie.

Ek gaan ook nie meer winkelsentrums toe nie, want ek is bang iemand bedwelm my met ‘n spesiale parfuum en beroof my.

Ek antwoord ook nie meer my telefoon nie, want ek is bang iemand gaan my vra om ‘n nommer te bel wat my sal deurskakel na Jamaika, Uganda, Singapoer of Uzbekistan.


Danksy julle gebruik ek ook niemand se toilet behalwe my eie nie want daar kan ‘n groot uitheemse spinnekop skuil wat my vleis kan laat verrot en my ‘n pynlike dood laat sterf as dit my byt.

As julle nie hierdie e-pos aan minstens 144 000 mense binne die volgende 70 minute aanstuur nie, sal ‘n groot duif met diarree op jou kop beland teen 17:00 vanmiddag en die vlooie van 12 brandsiekbrakke sal jou besmet en veroorsaak dat jy ‘n harige boggel op jou rug kry.

Ek weet dit sal gebeur, want dit het inderwaarheid met ‘n vriend van my buurman se vorige skoonma se tweede man se niggie se haarkapper gebeur!

En terloops…’n Suid-Amerikaanse wetenskaplike het tydens ‘n uitvoerige studie bevind dat mense met ‘n lae IK lees altyd hulle e-pos met hul hande op die muis. Moenie moeite doen om jou hand nou af te haal nie, dis te laat!”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page