top of page
  • Uitmelkbos

Tjoklits en Lindt

Charles Smith skryf oor Gestroop, deur Pieter Spaarwater. (Boeke24) Hoe skryf mens oor ’n oud-kollega in Media24 se rubriekebundel? Kennisgewing of eerlike beoordeling? Sagkens of striemend reguit? Ek het nogal bewondering vir die uitweg wat Charles Smith gekies het – deurentyd die moeilike ene, maar aangebied sodat dit na die maklike uitweg klink.

Elmari Rautenbach skryf oor Debora en seuns, deur Helene de Kock. (Boeke24) Dit klink of die lees van Debora en seuns ’n taamlike moeilike een was, maar Rautenbach soek na die reddende kenmerke, die dinge wat hierdie roman meer as net ’n gewone liefdesverhaal maak. En sy vind dit dan ook, in die manier waarop Londen tydens die Blitz beskryf word. Daar’s niks soos goeie navorsing nie!

Willie Burger resenseer Die mond vol vuur, deur Louise Viljoen. (Boeke24) Onlangs het iemand weer in die sosiale media opgemerk dat hy Breyten Breytenbach se digkuns nie altyd verstaan nie, maar dat dit tog so mooi is. Kon nie help om aan dié opmerking te dink terwyl ek Willie Burger se resensie lees nie. Dis ’n eersteklas resensie van ’n boek wat baie maklik deur die publiek by wyse van assosiasie ook “moeilik” gevind kan word. Daarom dat Burger se resensie so knap is – hy bespreek nie alleen Breytenbach en Viljoen se analises nie, maar sê ook die een ding wat vir alle liefhebbers van Afrikaanse digkuns belangrik behoort te wees: “Ondanks die deeglike literêr-teoretiese begronding, is hierdie boek nie slegs vir ingewyde akademici toeganklik nie – daarvoor is Viljoen se eie prosa te helder en sistematies, sonder onverduidelikte vaktaal.”

Amanda Botha skryf oor Boet se goet: Woorde en beelde deur Boet van der Hoven. (Boeke24) Vriendelik en tegemoetkomend. Die vergelyking met Chagall staan op wankelende bene, te ordeel na die omslag van die boek – mens kan tjoklits ewe goed met Lindt vergelyk. En Botha, deurwinterde joernalis, verwys na Van der Hoven as allemansfilosoof sonder om hom aan te haal. Nou ja.

Gert van der Westhuizen skryf oor Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid, deur Albert Blake. (Rapport Boeke) Ek wens Van der Westhuizen het net een van die ontsnappings in groter detail beskryf, en kort gegaan oor die boek se ander hoedanighede. Ons verwag mos nou al werk van ’n sekere standaard van Blake. Wat belangrik is om te weet, is hóé deeglik hy nagevors het en hoe vriendelik hy die inligting aangebied het, Mens het nie ’n Kort Begrip van die totale boek nodig nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page