Boekevat se ondersoek na titels het my voor my eie boekery laat stilstaan. Daar is darem wragtie wonderlike titels in Afrikaans. Kyk net hier na Ernst van Heerden se Die aamborstige klok.
Hoeveel mooier kan jy kry?
Jip, ek is jammer, maar die skoonheid het my ondergekry. Ek sal later snaakse titels soek. My boekery is alfabeties, volgens skrywer, op die rak, maar omdat elkeen op die rekenaar is, kan ek hulle skommel soos ek wil.
En, weet julle, ek is nog nie eers by A verby nie, en kyk net watter wonderlike goed is daar om te deel:
Muller, Petra: Die Aandag van jou oë
Roodt, PH: Afrika is blou soos 'n lemoen
von Meck, Anoeschka: Annerkant die longdrop
Olivier, Fanie (samesteller): As die son kom oog knip
Richard, Dirk: As 'n kat se naam Bach is
Cussons, Sheila: Die Asem wat ekstase is
Hoe gaan ek ooit by Sheila Cussons se Die woedende brood uitkom?
Dan het ek nie eens die Engelse titel van Zapiro genoem wat in A voorkom nie: The ANC went in 4x4 (met ’n prentjie van Yengeni wat die ark binnery).
Ek het ook nie stilgestaan by die getalle nie:
du Plessis, PG: 120+ Sommer-stories
van Heerden, Petronella: Die 16e koppie
Wil julle nie desperaat weet wat met die ander 15 koppies gebeur het nie?
En onthou julle Jan Rabie se 21? Dalk nie ’n aangrypende titel nie, maar wragtie ’n aardskuddende bundel!
留言