top of page

TIETIEMAN TOT VANDAG TOE

Uitmelkbos

Ek vra my vrou, Tokkie, onlangs hoeveel maande, weke, dae en ure is in 70 jaar – die geseënde ouderdom wat ek op 3 Januarie bereik het. Sy antwoord: “Ek weet net dis ‘n helse lot”.

‘n ‘Helse lot’ – dit slaan die spyker op die kop. In 70 jaar is, om presies te wees, 840 maande, 3,653 weke, 25,567 dae en 613,617 uur.

Dis hoe lank my lewensreis duur, van Babanango tot Melkbos, soos in die opdrag voorin van my boekie “In Kamera” (Protea, 2003) gemeld word. In daardie opdrag staan naamlik: “Die lewe was vir my goed. Op die pad van Babanango tot Melkbosstrand het baie mense waarde toegevoeg.”

En hoe bevoorreg was ek nie dat van elke stilhouplekkie langs daardie pad iemand verlede Saterdag, 8 Januarie, by my verjaardagviering by die Dale’s Black Angus-restaurant in Milnerton teenwoordig was. Dale is my buurman op Melkbosstrand – hy het self ook waarde toegevoeg met sy lekker kos, as ek dit self mag sê.

Uit die Babanangodae was ekself ongelukkig die enigste. Pa Seun is in 1946 al dood – hy was net 35 – en Ma Baby in 1993 op 73. Pa Seun sou op Dinsdag 4 Januarie 100 jaar oud gewees het. Maar hy is bloedjonk graf toe in die kaalhaaie Kimberley nadat sy enigste seun se kroepborsie die gesin van die plaas Middelin in die tuinprovinsie, Natal, na die dorre klimaat gedwing het.

Ma Baby, onthou ek soos gister in haar rouklere op haar trapfiets sentrale toe. Dit is waar sy na Pa se dood gaan werk het. Sy is later, in 1950, met Pa Malan getroud. Hy is in 1988 dood. Hulle lê saam begrawe in Pretoria-Oos-begraafplaas in Garsfontein.

Ook Bongile wat my Zoeloe geleer het en hoe om poetoepap in ‘n gemoedelike kringetjie met die hand uit ‘n driepootpot te eet, is dood. Bongile was lief vir die tradisionele drag van die Zoeloes, ‘n kort rompie van veelkleurige kraletjies – seker een van die redes waarom ek ‘n tietieman is tot vandag toe.

Oor die ander eras, en die verteenwoordigers uit daardie eras by my 70-fees, gaan ek in die volgende dae vertel. Hou dus dop, of hou verby na gelang van persoonlike voorkeur.

Volgende: Die Diamantstad, Kimberley

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page