top of page
  • Uitmelkbos

Tienie se glips

Tom Gouws resenseer Assignaat, deur Willem Krog. (Boeke24)

Ek kan Tom Gouws se verwondering verstaan – Willem Krog se digbundel is deur sy uitgewer, Tienie du Plessis, geknelter met die opmerking dat sy uitgewery, HOND, gedigte publiseer vir gewone lesers, eerder as vir resensente. Buiten dat só ’n opmerking nie besonder skrander is nie, nooi dit ’n ernstige resensent uit om die bundel behoorlik te meet, die rooi doek voor die bul. Gouws mors geen tyd nie. Wanneer hy uiteindelik toegee dat Du Plessis gelyk had, dit ís nie ’n bundel vir resensente nie, het hy ook uitgelig dat die bundel uiters onprofessioneel uitgegee is, met min leiding aan die digter, en skynbaar nog minder redaksionele ondersteuning. Kan dit dieselfde HOND wees wat jare gelede Breyten Breytenbach so keurig gepubliseer het?

Helen Schöer resenseer My groot vet Griekse egskeiding, deur Pat Stamatélos. (Boeke24) Mens kry die gevoel dat Helen Schöer hierdie resensie in een paragraaf sou kon afhandel. Soms doen mens die skrywer ’n guns as jy dit wel só bondig doen.

Joan Hambidge resenseer Takelwerk, deur Daniel Hugo. (Rapport Boeke) Soms deug Joan Hambidge se broksgewyse benadering tot digbundels, soms nie. In hierdie geval, waar sy die geleenteid benut om baie uit die bundel aan te haal, slaag haar benadering skitterend. Die leser ontwikkel begrip vir Hugo se digterskap, vir die inhoud van die bundel en dinge wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van sommige van die verse. Maar uiteindelik is dit Hugo wat praatkans kry, en sodoende maak Hambidge jou net nuuskieriger om die res van die bundel te lees. In hierdie dae waarin die oorvloed van Afrikaanse digbundels ’n baie klein stroompie van verkope afgee, vermoed ek sal Takelwerk veel beter vaar as wat ’n indringende akademiese bespreking tot gevolg sou gehad het.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page