top of page
  • Izak de Vries

Themba is dood


In mal jare van die burgeroorlog in die Mbali-township, net buite Pietermaritzburg, was Themba ’n voorloper en voorvatter. Ek en hy het ’n ruk lank vir ’n NRO gewerk in Pietermaritzburg.

Themba Sibeko was selfs vir ’n baie klein rukkie my baas. Dit het my oneindige plesier verskaf om vir hom “baas” te sê. Vir hom het dit geweldig geïrriteer. Kort daarna is hy na die Natalse Parkeraad toe en was hy dus van hierdie lastige werknemer ontslae!

Daar, in Mtunzini waar hy gewerk het, het ek en my geliefde by hom en sy eerste vrou gaan kuier. Themba het vleis gebraai en ons twee het soos goeie boere tot laatnag na die kole sit en staar oor ’n bottel wyn.

My slim vriend het hom opgewerk in die Natalse Parkeraad en hy was later gestasioneer in hulle hoofkantoor. Themba het gou in menslike hulpbronne begin spesialiseer en het toe verder geleer. (Hy was uiters intelligent, maar moes na matriek om den brode begin werk.)

Die konstruksiemaatskappy Stefannutti & Bressan het hom met die hand gekies en daar het Themba geweldig vinnig opgang gemaak. Ten tyde van sy dood was hy een van die alternerende direkteure van die maatskappy.

Sy huwelik met Mama het nie uitgewerk nie, maar hy het weer getrou.

Ek het die mooiste foto’s van hom op sy tweede huwelik met Nozipho (een is hierbo geplaas – ek het dit nie geneem nie).

Themba was 38 jaar oud. Ons het lekker baklei oor Zuma, maar verder was hy ’n wyse sielsgenoot.

Hy laat sy pragtige Nozipho en drie klein kindertjies agter.

Nee, hemel, dit was te gou!

Hamba kahle, mfowethu. Siyakuthanda. Ngizokhala manje.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page