Ek het Vrydagaand The Night Doctor gaan kyk saam met my geleerde vriend, Awie. Awie se kommentaar na die tyd was: “Dit is goed om soms uit jou comfort zone te beweeg.”
Ek dink Awie som dit baie goed op. Die stuk speel in die Artscape tot 30 Oktober, so gou spring as julle dit wil sien.
Catherine, ’n jong dokter besig met haar Zuma-jaar, pak eendag haar tasse en gaan huis toe. Daar kondig sy aan dat sy nie meer ’n dokter wil wees nie.
Natuurlik is pa en ma geskok. Natuurlik wil almal haar help om vinnig weer die wit jas aan te trek en terug te gaan.
“Jy wou nog altyd ’n dokter wees,” sê almal.
“Ja, en ek wou ook nog altyd ’n Olimpiese naelloopkampioen wees en niemand sê vir my ek moet weer begin hardloop nie,” is haar respons.
Alex Halligey beeld Catherine se rou doodsheid oor haar ervaringe in ’n gopsehospitaal baie goed uit. Julle weet dalk, maar ek woon saam ’n dokter en ons twee het vir vier jaar in ’n township gebly waar my liefie gewerk het. Ek het heelwat jong dokters sien crack. Selfs ervare dokters raak soms heeltemal depressief oor die geweldige werklading, die totale apatie van die verpleegsters, die gebrek aan toerusting, die onvermoë van die pasiënte om ’n regime te volg ... Die lys is lank.
Hierdie deel van die stuk word baie goed uitgebeeld. So ook die feit dat ’n dokter áltyd moet opinies gee oor mense se probleme. Haar pa vra haar uit oor ’n vetbobbel agter sy oor en die buurvrou bel om te hoor wat sy haar kleindogter moet voer.
Halligey vertolk hierdie dele meesterlik.
Pa en Ma gaan slaap en los hulle dogter om te mopper.
Dinge loop egter heeltemal skeef, of dalk juis nie, later daardie nag. Margot, Catherine se ouer sussie (opeetbaar vertolk deur die nimlike Tinarie van Wyk Loots) daag ook by die huis op. Sy is ’n veearts in Londen, maar die man by wie sy gebly het, was gewoon té oordonderend en sy vlug weg – na haar ouerhuis.
Die elektrisiteit tussen die twee sussies is aanvoelbaar, Halligey en Van Wyk Loots oortuig by tye werklik. Dis twee goeie aktrises wat soms toegelaat word om hulle onderskeie rolle uit lééf op die verhoog.
Maar, nog is dit het einde niet. ’n Inbreker (gespeel deur Thato Cele) sny sy pols terwyl hy ’n venster stukkend slaan en val flou op die mat. Te midde van ’n paar skreeusnaakse oomblikke waar die twee girls wonder hoe hulle die bloed op hulle ouers se tapyte moet hanteer, neem Catherine weer die rol van versorger aan. Sy verbind die wond, bring die jong inbreker by en laat hom gaan voor hulle die polisie bel – na sy die mes afgeneem het.
Ek wil nie té veel oor hierdie deel sê nie, want die einde moet julle self beleef. (Ek dink egter daar is ’n baie positiewe einde. Let op na die heel laaste woorde van die stuk en kontrasteer dit met die titel.)
Ek hoop ek het genoeg gesê om julle belangstelling te prikkel. Dis ’n interessante stuk en dit laat ’n mens dink.
Ek hét egter negatiewe kritiek ook – en ek dink die regisseur is grootliks te blameer, hoewel ek nie weet of die dramaturg ook ’n instigeerder was nie. En die dramaturg kan ook maar luister na ’n paar stukkies raad.
Kom ons begin by die teks – die dramaturg se rol, dus.
Die teks is vol verwysings na wurms, grond en tuine. Deur dit alles bring ons by Tenneessee Williams se bekende uitdrukking uit: “The violets in the mountains have broken the rocks.”
Hierdie vermoë van die menslike gees om te seëvier is een van die goed wat ’n mens hoop gee teen die einde. Die drama, waaruit hierdie aanhaling kom, is Camino Real, ’n stuk wat karakters leen uit ander dramas en wat uiteindelik handel oor oudword en dan nie meer van nut wees nie. Tog, die viooltjies breek deur.
The Night Doctor “leen” van JM Coetzee se karakters. Die inbreker merk op dat die twee sussies hom laat dink aan ’n boek van JM Coetzee. Hier het ek gedink aan die dokter in The life and times of Michael K. (Daar is ander verwysings na ’n soortgelyke karakter in die stuk – die ma kla op ’n stadium oor ’n seun wat haar die hele tyd sit en aanstaar...)
Boonop speel die stuk af op 5 November – Guy Fawkes se herdenking.
Al hierdie goed is pragtig, en aan te beveel, maar die manier waarop dit aangebied word, is lomp. ’n Goeie redakteur sou maklik vir Juliet Jenkin kon help om die stuk hegter te skryf. Dramas vertel stories, en goeie redakteurs staan gereed om stories te red.
Ek is dof, maar ek het gesukkel om die Guy Fawkes-verwysing te snap – behalwe dat iemand dalk ’n klapper in die gat gekry het daardie aand. So is ook die baie duidelike verwysing dat hierdie teks in Pietermaritzburg afspeel. Ek is ’n oud-Maritzburre-inwoner, en kon dus identifiseer daarmee, maar behalwe vir die soel, warm lug waarna die Londensussie telkens verwys, weet ek nie of dit sou anders wees as die dorp byvoorbeeld Stanger was nie – of iewers in die Vrystaat. (Ek sê weer. Ek is dof, dalk het iemand ’n verduideliking.)
Nou na die rol van die regisseur. Die dataprojektor is ’n wonderlike hulpmiddel en vóór die drama begin het, is die einste dataprojektor meesterlik ingespan, saam met ’n klankbaan wat net-net hard genoeg was om nie duidelik te wees nie ... Die klankbaan het ’n vrou se moeë stem gespeel wat die vergrype in hospitale opnoem, terwyl die dataprojektor ’n eindelose kringloop gespeel het van skoene wat op en af loop in ’n hospitaal.
Tydens die stuk is die dataprojektor ook gebruik om byvoorbeeld die ontploffende vuurwerke uit te beeld.
Maar dan val die res van die multimedia plat. Soos Marthinus Basson gedoen het in As die broek pas, is helderder ligte en multimedia soms gebruik om die karakters die geleentheid te gee om meta-oomblikke te beleef waar die gehoor aangespreek word en die stuk nie meer “realisties” is nie.
Dit werk egter nie. Sny die stuk met dertig minute, gooi die foefies uit en laat die (uitstekende) akteurs toe om hierdie goed in die dialoog uit te beeld.
Daar is ook die gebruik van klank. Beide die ma en die Londensussie hardloop gereeld na die hoek van die verhoog, lig hulle hande op, en bring ’n klank te vore wat klink soos ’n veiligheidshek wat toegaan. Die eerste keer het ek gedink dis wat dit is – ma wat sluit. Die tweede keer dalk nog ook, teen die derde keer het ek begin wonder en teen sesde keer het ek begin lag daarvoor. (Okay, ek ís dof, as iemand verstaan wat die subkteks is, laat my weet, asseblief?)
Ek dink veral die ma (Adrienne Pearce) en die pa (Adrian Galley) is veel beter akteurs was hulle hier toegelaat word om te wees. Tinarie van Wyk Loots het ek laas gesien as Cleopatra – onder leiding van Marthinus Basson: WOW. En, ek het reeds genoem dat Alex Halligey haar rol meesterlik vertolk wanneer sy toegelaat word om die karakter te wéés. ’n Regisseur moet hulle nie smoor nie. Selfs die bitter klein rol wat Thato Cele (as inbreker) gehad het, sou meer gravitas kon kry as daar ’n effens sterk hand was al die drade geknoop het.
Ek is regtig bly ek het The Night Doctor gesien, en ek is verskriklik opgewonde oor die nuwe dramas wat geskryf en aangebied word deur die Artscape. Roy Sargeant se uitstekende visie om geld te gaan soek vir hierdie projek, is iets waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees.
Ek is egter krities, want ek wil ook hê ons jong dramaturge en regisseurs moet weet as daar haakplekke is.
Ondersteun asseblief hierdie inisiatief.
Ek het reeds genoem The Night Doctor speel tot 30 Oktober.
Volgende aan die beurt is Interrupting Henry (4 – 20 November) wat ek bitter graag wil sien.
Die seisoen eindig met Myth of Andrew and Jo – ’n wonderlike stuk wat verlede jaar ’n toetslopie gehad het in die Artscape. Ek kan dit baie hoog aanbeveel en sal dit graag weer wil sien. Lees my resensie hier.
Teater is die lewensbloed van film en TV. As ons nie meer wil skaam wees vir poepgrappe in die tipiese Suid-Afrikaanse film nie, moet ons die akteurs, dramaturge, regisseurs en vervaardigers ondersteun wat dit nog waag om ordentlike stukke aan te bied.
Gaan heen en gaan sien hierdie jong dramaturge se werk.
Comments