top of page
Izak de Vries

The Blue Iris deur Athol Fugard

Ek kom pas terug van die Fugard-Teater waar ek Athol Fuard se nuutste stuk, The Blue Iris, gesien het.

Dis liefdesverhaal. Ja, die oubaas is nou oor die tagtig en hy gee vir sy gehore ’n liefdesverhaal. En weet maar net: teen die einde van die stuk was daar heelwat nat gesigte in die gehoor.

Ek was bevoorreg om Fugard verlede jaar te ontmoet, en hy het my toe baie entoesiasties vertel van die stuk, maar hy was slim genoeg om nie die verhaal weg te gee nie.

Ek gaan ook nie. As ek die werklike storie ágter die storie gaan uitlap, dan gaan ek julle pret bederf. Gaan sien dit self.

Ek kán sê dit speel af in die Karoo. Die plaashuis het afgebrand en die boer, Robert Hannay, kan nie tot rus kom nie, want hy glo sy dooie vrou, wat oorspronklik van Engeland was, roep hom. Rieta Plaasman, sy bediende, is ook nog daar. En dis nou net hulle twee teen die elemente.

Robert soek antwoorde in die puin, vir Rieta lê die antwoorde veel duideliker. Of dalk nie?

Robert se vrou was ’n kunstenaar en sy het biologiese sketse gedoen. Die giftige blou iris, of dan blou tulp soos die Karooboere die blom noem, was haar eerste skets.

Ek gaan nie te veel van die verhaal weggee as ek julle vertel dat daar dríé akteurs in die programnota’s genoem word nie, ook nie as ek vertel dat een van hulle Sally Hannay, Robert se vrou, is nie. Hoe sy en die blou iris uiteindelik vir Robert en Rieta tot besinning bring, wel, dit gaan ek beslis nie uitlap nie. As oubaas Fugard op 80+ wil liefdesverhale vertel, dan gaan ek nie sy pret bederf nie.

Die akteurs is puik. Robert Hannay word vertolk deur Graham Weir, wat bekend is vir sy aandeel aan Not the Midnight Mass; of, as julle Spud gekyk het, dan sou julle hom as Viking, die teateronnie, gesien het.

Rieta word gespeel deur Lee-Ann van Rooi. Julle gaan haar hierdie jaar ’n paar keer op die TV sien. Sy is uiters oortuigend. Hierdie meisiekind het groot dinge voor haar. Gaan kyk The Blue Iris en sê vir jou vriende jy het haar al van naby gesien.

Sallay Hannay word deur Claire Berlein gespeel – iemand wat al op verskillende kontinente gespeel het. Dis ’n klein rolletjie, maar sy suig die energie deeglik na haar toe wanneer sy daar op die verhoog klim.

Tegniese goed:

Janice Honeyman is die regisseur.

Pusetso Thibedi is die assistentregisseur.

Mannie Manim het die beligting ontwerp (en doen puik goed met weerlig en donderweer.)

Dicky Longhurst het die stel ontwerp.

Birrie le Roux was verantwoordelik vir die kostuums – dít verdien ’n pluimpie.

Greg Karvellas is die produksiebestuurder.

Michael Inglis is die verhoogbestuurder.

Musiek is opgeneem en verskaf deur Murray Anderson, Ellinor Spears en Cheryl de Havilland.

Daniel Galloway is die algemene bestuurder van die Fugard-Teater.

Eric Abraham is die vervaardiger.

3 views

Recent Posts

See All

Ena Murray deur die oë van ander

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015 Alle foto's deur Susan Bloemhof Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was...

Why? / Hoekom?

A brief explanation on why I run without shoes. (Afrikaans hieronder) Nou die Afrikaans: Hoekom kaalpoot?

Commentaires


bottom of page