top of page
  • Uitmelkbos

TERUG OP MY TROON


stoel

My stoel is terug. Ek sit in my studeerkamer op Melkbos voor die rekenaar en swaai en draai op ‘n meneer van bruin leer met soliede armleunings van Birmaanse kiaat. Na twee manade op ‘n harde, regop kombuisstoeltjie is dit hemels. Ek voel soos ‘n koning op sy troon. *******************

Ek op my geliefde stoel. By my is Jan Scholtz, die aand van my afskeid by Die Volksblad in 1992. *******************

Die stoel is deel van van een van wyle kollega Jan Scholtz se monumente by Die Volksblad: die stylvolle redakteurskantoor met sy meubels van stinkhout en Birmaanse kiaat. Die meeste meubels is deur die meester-vakman Jan persoonlik gerestoureer met die opgradering van die gebou in 1986.

Die stoel is volgens Jan se opdragte deur Bloemfontein se Republiek Meubels vervaardig – deur Lappies Labuschagne se mense, wat hul storie geken het. My voorreg gewees om op daardie stoel te sit en in daardie deftige kantoor my dagtaak te verrig tot 1992.

(Dr. AJR van Rhijn het, terloops, in die 40’s by dieselfde lessenaar gesit. Die uwe was toe ‘n skoolseuntjie in Kimberley – sonder die vaagste benul dat dit my ook beskore sal wees. Die huidige redakteur, Gert Coetzee, sit na my wete steeds by die lessenaar).

Die kantoor is ná al die jare feitlik onveranderd. Natuurlik is die rekenaar in die plek van die tikmasjien. Dan het ‘n vorige redakteur die stoel uitgegooi. My geliefde stoel. Het nie met sy rug ge-akkordeer nie.

Maar stoel in Bloemfontein, stoel op Melkbos. Klink seker verwarrend. Laat ek die kloutjie by die oor bring. Nee, dis nie dieselfde stoel nie. Die Melkbos-stoel is ‘n replika. Die twee is vinkel en koljander.

Die replika is in my besit sedert 1992. Was my afskeidsgeskenk toe ek by Die Volksblad weg is Kaap toe – ‘n gewaardeerde geskenk wat seker deur Jan geïnspireer is. Hy het geweet hoe lief ek vir die meubels in my mooi kantoor is. (Het ook ‘n replika van die boekrak in ‘n gangetjie wat na ons eetkamer lei. Maar dié het ek self laat maak.)

Ewenwel, in Desember verlede jaar gee die stoel se meganisme skielik mee. Sewentien jaar se sit het sy tol geëis. My gewig is boonop nie iets wat ‘n mens sommer uitblaker nie. Ek soek en ek soek, en kom uiteindelik by die firma Office Concepts uit. Gaan laai my stoel daar af. Wag en wag. Toe kom die nuus: Jammer, daardie soort imeganisme is uit die mode. Kry dit nergens.

My stoel, my stoel. Ek praat mooi. Hulle moet eenvoudig ‘n plan maak. Goed, laat ons kyk, sê Nathan.

Vanoggend ná my soveelste navraag bel Nathan: Sit jy of staan jy? Jou stoel is reg. Ek kon die man soen.

Die Proteas het ‘n slag weer gewen, ‘n salige koel seebriesie stoot by die woonkamer se skuifdeur in, en ek sit weer die sit wat my boude al so lank so goed ken. Die Kaap is weer so Hollands soos kan kom.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Kommentare


bottom of page