top of page
  • Uitmelkbos

TELEGRAM VIR TOKKIE


Op 15 Maart 1965 skuins na 13:00 het ek by die Leeusig-poskantoor in Kaapstad ingestap en ‘n telegram vir Tokkie van Wyk in die McDonaltehuis aan die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gestuur. “Baie hartlik geluk,” lui die telegram, “Nou is jy ampertjies groot. Liefde. Hennie.” Sy was toe 19 jaar oud.

Donderdag is sy “clickety click” – in Bingotaal. Telegramme bestaan lank nie meer nie. Ook nie die Leeusig-poskantoor nie, sien ek in die boekie met poskodes. Maar daardie telegram van 15 Maart 1965 bestaan nog. Dit is saam met ‘n hopie telegramme, gedateer 31 Desember 1966, in ‘n hoekie van Tokkie se swaar embuia- trousseaukis in die slaapkamer – ‘n ware skatkis van kosbare herinneringe.

Op 31 Desember 1966 – Tokkie was nog nie 21 nie! – is die Van D’s op Bultfontein getroud. Vriende en familie het van oral per telegram – party ernstig, party luimig en party amper-amper stout – hul gelukwense oorgedra. Sy het elkeen.

Dat telegramme nie meer bestaan nie, het ek enkele jare gelede eers agtergekom toe ek na ‘n soektog Hazyview se goed versteekte poskantoor opgespoor het om ‘n telegram te stuur. ‘n Wat? Die dametjie agter die toonbank was uit die veld geslaan.

Die ontdekking van die telegram se heengaan het ons nogal geskok. E-pos is nie oral beskikbaar nie. SMS? Is dit werklik so persoonlik-intiem soos ‘n telegram wat ‘n posbode per fiets by die huis kom aflewer? Om sy nek was so ‘n leersakkie met die telegramme, onthou?

In poskantore het die klerke gou geweet as daar ‘n belangrike verjaardag, ‘n huwelik of ‘n nuwe baba op die dorp is. Die telegramme het van vroeg ingestroom – sommige sierlik geraam met allerlei blommetjies en dinge. Dit was ‘n sogenaamde groetetelegram.

Daar was, helaas, ook telegramme net slegte nuus: ‘n sterfgeval in die familie, ‘n belangrike eksamen wat gedruip is of ‘n afdanking. Soos jy drome kon help bou, kon jy ook brutaal en kortaf in ‘n telegram iemand se drome verongeluk.

Die letters op die telegram is deur die teleks op sulke smal strokies getik en, vratte en al, op die telegramvorm geplak. Op die foto hierbo is my verjaardagtelegram aan my aspirant-bruid en drie ander. Dit sluit ‘n groetetelegram in.

‘n Vreemde latere ontdekking was hoe lank die telegram al van die toneel moet wees. ‘n Jong vriendin van Tokkie, ma van twee kindertjies, het byvoorbeeld nie geweet waarvan my vrou praat toe sy onlangs oor ‘n teekoppie die onderwerp van telegramme aanroer nie.

Tokkie het na ‘n vurige pleidooi haar telegramme vir my uit die kis gehaal vir doeleindes wat ek nie aan haar wou verklap nie. Ek het belowe om dit veilig terug te besorg. Sy wil vir die kinders daarvan present gee, en vir die kleinkinders. Dis “Africana”, meen sy.

Ek sou graag Donderdag vir haar ‘n telegram wou stuur op haar “clickety-click”. Dink net hoe romanties dit sou wees as die posman per fiets met klingelende klokkie voor Penguin Place 11 ‘n es sou kom gooi om my mooiste wense, liefde en waardering vir my liewe vrou oor te dra op ‘n dokument wat sy, soos ‘n kwitansie, in haar trousseaukis kan toesluit – om my, wanneer sy dit nodig en wenslik ag, aan my woorde te herinner!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page