top of page
  • Uitmelkbos

TEE VIR TWEE

IMG_9756-001
IMG_0278-002

BO: ‘n Skontjie vir Tokkie in die majesteitlike “Queens Room”.  ONDER: Die” Queens Room” se ligte.

GEE  die Britte die eer. Net hulle ken die kuns om ‘n middagtee om te tower tot ‘n plegtigheid soos die “changing of the guards” en die mense van oral oor die wêreld daarvoor te laat toustaan asof hulle wag op ‘n koninklike oudiënsie in Buckinghampaleis self.

Nou moet ek versigtig trap met uitsprake wat as kritiek bejeën kan word.  Dalk het ‘n leser van hierdie blog die gryse skrywer voor in die tou opgemerk by sommer al die eerste “afternoon tea” na die Queen Mary se vertrek uit Kaapstad op pad na Durban, Mauritius, Fremantle/Perth, Melbourne en Sydney.

Ek wil nie as skynheilig bestempel word nie.  Laat my dus maar erken:

Toe die ry kelners met hul wit tuxedo-baadjies en wit handskoene uit die kombuis te voorskyn kom met die swaar silwer teepotte in die hand, was Van Deventer met die Canon op sy voete. Toe die eerste straaltjie Twinings my Wedgewood-koppie tref, was ek so grootoog begogeld soos elke ander nuwe deelnemer aan die ritueel. 

Die “afternoon tea” is ‘n Britse tradisie wat glo deur die Hertogin van Bedford in 1840 gevestig is. Die Cunard-skeepsmaatskappy, eienaars van die Queen Mary 2, volg al meer as ‘n eeu en ‘n half in die Hertogin se elegante voetstappe.  

Die okkasie vind plaas in die majesteitlike “Queen’s Room”, na aanspraak die grootste balsaal ter see met ‘n dramatiese hoë plafon (meer as sewe meter hoog), kristalkandelare, wydse uitsigte op die deinende oseaan aan bakboord en stuurboord, kunswerke, feestelike baniere in die dak en ‘n yslike dansbaan waar die passasiers tot laatnag in hul aandpakke en swierige lang tabberds hul passies uithaal.

Vir die tee sit rondom 500 mense elke middag op goue brokaatstoele aan. Vars broodjies word bedien (komkommer, ja, maar nie net komkommer nie), ‘n koekieverskeidenheid en, natuurlik, varsgebakte skons en room.  Sowat 700 skons kom elke dag vir “afternoon tea” spesiaal uit die oond.

 Hoe lief die Britte (en ander nuut bekeerdes) vir hul tee is, blyk uit die verbluffende statistiek dat sowat 6 000 koppies tee per dag op die QM2 geskink word.  Toegegee, dis darem ook die tee by ontbyt en so aan.  Maar soveel mense laat hulle in die “Queens Room” ‘n tweede “cuppa” welgeval dat ek met vrymoedigheid dieselfde vir my veroorloof het. Tokkie, glo ek, was in daardie stadium by haar derde koppie. Sy sal dit ontken.

Die tee, “Traditional Afternoon”, is spesiaal vir Cunard uitgesoek, moet jy weet.  Die smaak is glo “klassiek” en “tradisioneel” en die allerbeste tees van Assam, Kenia en Ceylon is daarin vermeng.  Die kleur is buitengewoon helder. Die smaak is nogal verfrissend.

 Jy mag ook vra vir “Earl Grey” uit China of “Darjeeling” van die voet van die Himalajas af.  Toe ek beleefd verneem na die beskikbaarheid van “Vyf Rose” is ek onbegrypend aangekyk.  

 By die eerste tee was Hannah Ruiters, ‘n blonde Amerikaanse meisie, en haar harp vir die strelende agtergrondmusiek verantwoordelik.  Sy ken haar harp en laat engelemusiek uit die snare vloei. Me. Ruiters ken ook haar sit en die spleet in haar blou aandrok vertoon net die regte hoeveelheid elegante been.      

 By latere  tees is die musiek verskaf deur onder meer ‘n jong strykkwartet uit die verskeurde Kiëv in die Oekraïne, mooi skoongesig-kinders wat mooi musiek maak, en drie pianiste om die beurt. Het nogal gedink ons eie Johan Fick, voorheen van George, sou ook aan hierdie front ‘n stewige bydrae kon lewer.

 In elk geval, tee, skons, mooi mense, mooi musiek, mooi omgewing om drie-uur in die middag – dis mos selfbederf in ‘n gevorderde graad.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Kommentare


bottom of page