top of page
  • Uitmelkbos

TEE VERDRA GEEN ONREG


f83c365f-958d-45ae-ab44-30d35f90212e

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat, Pretoria) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde “boozeklub” – eufemisties bierklub genoem – met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”. Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Vrydagaande het ons gewoonlik “Tant Bella” besoek. Ons kaptein , Ralph van Schoor (blonde kêrel, regs voor), het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê “rum” is dit “rum”, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap!

Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate pilare van hul gemeenskappe geword. Maar dit net terloops.

‘n Gedenkwaardige aand in die geskiedenis van die eerbiedwaardige (?) klub was in 1959 toe ook die eerste verjaardag van die Aula gevier is. ‘n Deftige okkasie. Die “Boozeklub” het daardie aand op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) sy eie feestelikheid onderneem – minder deftig as die Aulastorie maar kwalik oortrefbaar in vrolikheid.

Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister het. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.

Ons het die brassery almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.

Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aandpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra. In elk geval, met pouse beweeg van die statige gaste toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en die Aula se stoep op te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.

‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede” skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die klub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die H.F. Verwoerd te gaan haal vir ‘n Fonteineparty.

Dit het vir nog ‘n gedenkwaardige aand gesorg.

In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n onverwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery. Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp.

Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Maar dit was lank, lank gelede. Ek en Piet Henning (regs agter) van Louis Trichardt sien mekaar nog een keer per jaar by ‘n kamp van Kollegemanne uit daardie bewoë dae in Balule in die Krugerwildtuin – almal 75 plus. Ons kuier nog ‘n hond uit die bos – maar darem strate sediger as toe ons 18/19/20 jaar oud was. Ons drink nou hoofsaaklik flouerige Skotse watertjies en ‘n wyntjie of twee. Skoon alkohol met coke? Is jy dan laf, vriend!

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

コメント


bottom of page