top of page
  • Uitmelkbos

“TE HEL MET SPEL!”

P.W. Botha en Koedoe Eksteen in gelukkiger dae. Op die foto hierbo is hulle gemoedelik saam op ‘n jagtog in 1987 op die plaas van Pieter Jacobs (links) in die Suid-Vrystaat. Ja, Koedoe, jy kry mense met lang geheues …

Nadat my oud-kollega Johan van Wyk, prof. Andries Brink, Niel van Stellenbosch en Pieter Meyer van Oudsthoorn netjiese kommentaar gelewer het op Eksteen se swymelende politiek-korrekte reeks van drie artikels in Die Burger sal ek maar die versoeking weerstaan om ook saam te praat.

Nie dat ek nie heelwat op die hart het oor sy skryfsels nie, want die nimlike Koedoe wat nou met so ‘n onwaardige drang tot selfverontskuldiging so onbehoorlik sy eie basuin in sy onbekookte artikelreeks geblaas het, was een van die voorste skeppers uit die pappotte van apartheid, onthou.

Ambassadeur by die V.N., direkteur-generaal van die SAUK, gewillige gas by gesellige jagtogte van mense uit die P.W. Botha-binnekring, gretige deelnemer aan berade van die Afrikaner-Broederbond oor die toekoms van die land – noem maar op.

Kom ons los dit daar. Vandag se klippie in my skoen is veral oor ‘n klein “onthullinkie” onderlangs in een van sy artikels: dat hy vir die Staatspresident ‘n brief met ‘n spelfout geskryf het en toe daaroor gekapittel is.

Eksteen glo klaarblyklik: Wat is ‘n ou spelfoutjie nou tusssen vriende? Hy spot selfs dat P.W. Botha tyd kon vind om oor so ‘n beuselagtigheid moer te trek.

Ai, ai – asof dit nou iets is om te roem dat die baas van die SAUK ‘n slordige brief aan die land se Staatspresident skryf! As ek Eksteen was, sou ek liewer ‘n sluier oor daardie insident wou trek as om op grond daarvan die ontvanger van die brief by te kom.

Neem my gerus maar daarvoor kwalik, maar ek is een van daardie outydse garde wat glo in alle hoflikheid teenoor mense vir wie jy skryf, en ook uit respekte vir jou taal, gee jy om oor die suiwere gebruik van Afrikaans, en is jy besorg oor die kwaliteit van geskrewe kommunikasies waaronder jy jou handtekening sit.

Ek is bevrees in my oë openbaar die storie van die “spelfoutjie” ‘n krakie in die mondering van die man wat dit gepleeg het. Vir die man wat daardeur gegrief is en dit onomwonde uitwys, lig ek egter die hoed.

As ek dit sê, is ek nie net agter Koedoe Eksteen se bloed aan nie. Te veel mense glo: “Ag, te hel met spel!” – veral as Afrikaans die lydende party is.

Gruwelike verminkings kom soms uit die penne van anderstaliges wat eenvoudig te laks, te sorgeloos en te minagtend is om op hul Afrikaans te let. “Anything goes”.

Dis al erg genoeg. Wat erger is, is Afrikaanssprekendes wat nie net in hul spreektaal goedsmoeds brou nie, maar toenemend ook in hul skryftaal.

Ek kry briewe van mense wat van beter behoort te weet, maar wat duidelik nie omgee nie, of doelbewus ongedissiplineerd skryf om “in” of “modern” te wees.

Selfs van ons gerekende publikasies is nie vry te spreek nie.

Iemand behoort, soos ‘n P.W. Botha, ‘n vermanende wysvinger te swaai as diegene so met hul taal mors.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page