top of page
  • Uitmelkbos

TE GOED OM WAAR TE WEES!

Die uitsig uit die Esplanade-hoofgebou


Skepties is die mens gebore. Goeie nuus klink soms eenvoudig te goed om waar te wees. As jy weer jou oë uitvee, is dit neusie verby met ‘n kans uit ‘n duisend.


Toe die nuus ons afgetredenes van die Probusklub op Melkbos bereik dat ‘n hotel op Hermanus vir ‘n winterpromosie kamers teen R60 per nag per persoon aanbied, was die wantroue geweldig.


Die boodskapdraer is skeef aangekyk omdat hy sulke onsin glo. Een ervare hand in die toerismebedryf het ernstig verklaar: “Kyk, ek sê nou vir julle as ‘n hotel R60 per nag vra, is daar fout.” Vee die ding van die tafel, was sy oortuigde advies.


“Sal ons nie gaan kyk nie?” het versigtiger lede gewonder. Josua-verspieders is uitgestuur. Die eerste verslag het bevestig daar is wel so ‘n aanbod. Onsekerheid oor sekere aspekte het egter voortgeduur.


‘n Tweede rapport is ingewin – en ‘n derde. Die proposisie het al hoe belowender begin lyk.


Maandag en Dinsdag het die Van D’s en Van W’s (my swaer en skoonsuster van Klaradyn in Brackenfell) in die motor geklim na die Hotel Esplanade, Hermanus toe. Die nuus is eintlik nog beter het dit intussen geblyk: R460 vir ons vier vir twee nagte (d.w.s R57,50 per nag per persoon), met ‘n tweegang-ontbytjie (graankos, een eier en ‘n vleiskossie, koffie en roosterbrood) ingesluit.


Met die ligging van die Esplanade in Marineweg kan niemand fout vind nie. Dis regoor die sogenaamde “kookpot” (Boiling Pot) met ‘n wonderlike uitsig oor die baai en reg in die toerisme-hart van Hermanus, stapafstand na Village Square met sy pikante eetplekkies en geskenkewinkels.


Op pad na die versteekte stegie na die parkeerplek aan die agterkant van die hotel ry ons by ‘n uithangbord verby: R550 per nag. Dit vir een mens vir een nag! En minus ontbyt! Ons glimlag behaaglik.


Ons keuse van akkommodasie het geval nie op kamers in die ou hoofgebou wat see toe front nie, maar ‘n tweekamer-huisie in die boomryke binneplaas; pure Griekeland met die witgepleisterde mure, blou deure en kosyne en slierte bougainvillea.


Kyk, die meubels is nie nuut nie. Maar dis stewig en netjies. In die slaapkamers is antieke hang- en spieëlkaste. Die vertrekke is ruim. Die badkamers is netjies geteël. Die kombuisie is goed toegerus. ‘n Bonus is ‘n beskutte binnehof met ‘n private braaiplek.

My swaer Fanie het uitgewerk dis presies 100 tree van ons deur tot by die bankie teenaan die “Kookpot” waar hy, volgens hom, heeldag sou kon sit en vir die malende branders kyk. Van so lank stil sit was egter geen sprake nie. Vlakvoor die hotel loop gerieflike sement-wandelpaaie verby, kilometers langs die skilderagtige kus af. Selfs ‘n lid van die kieriekommando (vra my) kan daardie paadjies en die hout-trappe teen die rotshange aandurf. (Moet ook nie ‘n wandeling onder die melkhoutbome tussen Voëlklip en Grottobaai mis nie.)


Vir Fanie, ‘n boekeslaaf, was daar egter nog beter nuus. By die agterhek uit (waar jou motor veilig, agter slot en grendel geparkeer staan) is twee boekwinkels met historiese skatte. Een is die bekende Hemingways. Net buite daardie hek wag ook trosse winkeltjies om ontgin te word.


In vanoggend se Burger is ‘n berig oor ‘n gids van restaurants wat waarde vir geld bied. Op enige sodanige gids vir hotels sal Hermanus se Esplanade ongetwyfeld sterk meeding vir eerste plek. Trouens, as iemand ‘n gids sou uitgee van te-goed-om-waar-te-wees-blyplekke sal die Esplanade ook my kandidaat wees vir die boonste sport op die leer.


Dalk nog net een keer tevore in my lewe het ek ‘n ewe verrassende te-goed-om-waar-te-wees-ervaring gehad. Dit was om in 1976 vir ‘n Amerikaanse “quarter” (25c) op die veerboot van Manhattan na Staten Island te ry met ‘n manjifieke uitsig op die stadsprofiel van New York.


Om jou hele Hermanuskuier spotgoedkoop te hou, gaan koop vir jou vis en skyfies by die Lusitania in die hawe, bring ‘n dag deur in die asemrowende Fernkloof-natuurreservaat en drink saans ‘n ottermaklottertjie uit Boland Kelders se Bon Vinoboks. Ja, ook ‘n doodgewone “Koekemoertjie” kan plesier uit die lewe put!


Naskrif: Die Hotel Esplanade betaal my geen sent vir hierdie getuigskrif nie. Wat my betref, verdien hy elke woord.



1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page