top of page
  • Uitmelkbos

TANDEMUIS EN DIE ‘WISSELKOERS’


Elke melktandjie wat gewissel word , kom slaaptyd onder die kopkussing of in ‘n glas water langs die bed. In die nag sluip die tandemuis (of tandefeetjie) stilletjies in en ruil die tand vir ‘n muntjie, lekkerny of ander presentjie. Die tradisie is omtrent oral op ons planeet deel van kinders se fantasiewêreld.

‘n Kinkel in die kabel hedendaags is blykbaar die uitwerking van inflasie op die “wisselkoers”. Gister, eergister hoor ek van R100 vir ‘n tand – ‘n inflasiekoers wat my amper my tande laat insluk.

Goed, blykbaar is die prys in daardie geval opgejaag deur ‘n kommunikasiegaping tussen die pappe en die mamma. Pappa het klaar R50 opgedok. Toe kom mamma en, onbewus van haar eggenoot se ruime kompensasie, haal sy ‘n tweede R50-noot uit die handsak.

‘n Kompliserende faktor was blykbaar die teenwoordigheid van heelwat bloed toe die wisseltandjie met die tou-aan-‘n-deurknop-metode uit die bedorwe brokkie se tandvleisie gelig word. Dit was op pa, ‘n tandarts se advies, maar strydig met die ma se moederinstinkte. Die skielike bloed op haar telg se lippies het haar hart week gemaak. Noem haar paaiement dus gerus “bloedgeld”. Nietemin, die haasbekkie-in-wording lag toe al die pad bank toe, soos hulle sê.

Nou weet ek maar te goed van inflsie en so. Die impak voel ek elke dag aan my oumens-bas. Dit is seker net te verstane dat ander begrotings – ook ie van die tandemuis wat seker geen kerkmuis is nie – nie die byt van die inflasiemonster vryspring nie. (Lekker titel dalk vir ‘n treffer-kinderboekie: Tandemuis en die lelike ou inflasiemonster?)

Ja, helaas, geld verloor maar vinnig sy waarde. ‘n Ander mamma bekla juis haar lot nou die dag: eers het haar kinders twee-sent-stukke ingesluk, nou’s dit twee-rand-stukke!

Maar honderd rand vir ‘n tand is darem dik vir ’n daalder, sou ek reken. In my tyd was die koers tiekie ‘n tand, maak nie saak hoe arm of ryk jy was nie. (Vir diegene wat nie weet nie, moet ek verduidelik dat ‘n tiekie gelyk was aan twee en ‘n half pennies – die helfte van ‘n sikspens en die kwart van ‘n sjieling. Ons geldeenheid was die pond. Die rand (en sent) het eers later, aan die begin van die jare 60, saam met Daan Desimaal hul buiging in Suid-Afrika gemaak.)

My eerste tande-tiekie het ek gelukkig darem sonder bloedvergieting verdien toe die los tandjie daar in 1946 rond kaplaks! uit my mond val in die potjie waarop ek in die badkamer gesit en doen het wat kinders oral nou nog op potjies doen.

Wie ook al wonder wat op deeske aarde so ‘n lummel wat al begin wissel het, dan op daardie kritieke moment op ‘n potjie gesoek het, begryp van ‘n ander belangrike element van my kleintyd-kultuur klaarblyklik geen snars nie.

Mense, dit was in die tyd toe die naam “kleinhuisie” presies beteken het wat dit suggereer – ‘n los, aparte geboutjie doer iewers in die agterplaas. By die Van Deventerwoning in Diagonalstraat, Kimberley, ‘n hoogs beskeie “semi-detach” naby die stasie, was dit onder ‘n peperboom in die verste hoekie – nie gerieflik vir sorgvrye besoeke na donker nie.

Onder die houtbank was ‘n emmer met die versamelde inhoud van 24 uur. Die inhoud was nie ‘n plesierige konkoksie nie. Gelukkig het die eerste HvD-tandjie nie in daardie gemors beland nie, want dit sou herwinning ongetwyfeld ‘n onbegonne taak gemaak het.

Daarvoor dank ek my sterre, want sonder die stawende getuienis was ek dan nog tien teen een, behalwe my tand, my tiekie ook kwyt!

Naskrif: Op die foto bo is Johan (amper 38) toe hy circa 1976 minus sy twee voortande was. Hoe sentimenteel sy ma, Tokkie. oor sulke sake was, blyk daaruit dat sy eers aan die begin van hierdie jaar (2009) daardie twee tande formeel aan hom oorhandig het. Sy het dit, werklik, soos sy eerste lokkie hare wat afgesny is, nog altyd soos goud bewaar!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page