Dit is 1970. Loftus Versfeld. Die Springbokke teen die All Blacks.
Syd Nomis, Springbokvleuel, onderskep en sit af doellyn toe.
“Syddie! …. Syddie! … Syddie! …” jubel Gerhard Viviers hees van aandoening oor tienduisende radio’s in Suid-Afrika.
In ‘n onderhoud met my vir die rubriek “Onder Vier Oê” in die dagblad “Beeld” in die jare 70 het Gerhard verleë gegrinnik oor hierdie beroemde moment uit sy uitsaailoopbaan.
Toe hy by die huis kom en sy vrou hom vertel hoe hy geskreeu het, wou hy haar nie glo nie, het hy erken. Toe gaan luister hy na die band – iets wat hy nooit gedoen het nie – en hoor hy toe met sy eie ore hoe hy “te kere gegaan” het.
Jare later as Syd Gerhard aan iemand voorstel, was sy woorde: “He’s the man who made me famous.”
Gerhard Viviers, die “goue stem” is op 15 Desember 1998 aan keelkanker oorlede. Nou, amper tien jaar later, is Syd Nomis, die blitsige vleuel, se been in Switserland weens bloedklonte ge-amputeer.
Die wiele van die tyd maal meedoënloos.
(Hierdie is ‘n kort uittreksel uit “Byl in my bos” wat verlede jaar deur Griffel Media gepubliseer is.)
Yorumlar