top of page
  • Uitmelkbos

SY LAASTE GRAPPIE….


Pieter, Wena en hul boesemvriend, Herman le Roux, in Sabiepark in die winter van 2011.

Om as t ware met ‘n laaste skalkse grappie op jou lippe, die klink van ‘n glasie en ‘n vonkel in die oog rustig jou laaste asem uit te blaas, is nie elkeen beskore nie. Pieter de Kock – die opgeruimde mens met die slag om altyd vir elke geleentheid ‘n kleurryke storie met ‘n stewige skeut humor op te diep – was een van die uitverkorenes.

Sy dogter Sonja het uit Australië ‘n merkwaardige e-pos gestuur oor haar pa se laaste ure, op grond van inligting van haar broer, Hennie, wat saam met sy ma, Wena, in die hospitaal in Pretoria by hom was tot die einde.

Sterfbedstories is natuurlik uiters privaat. ‘n Mens respekteer die naasbestaandes se diepe leed en behoefte om sekere intimiteite in hul harte te bewaar. Daarom het ek eers lank besin voordat ek huiwerig by Wena aangeklop het met die vraag: “Mag ek maar Sonja se roerende weergawe deel?”

Wena het die groen lig gegee. Met haar goedkeurende medewete dan Sonja se brief, volledig:

“Diê van julle wat nie weet nie.

“Nadat die bloedklonte uit Pa se niere verwyder is, was sy bloeddruk baie laag. Hul kon nie dadelik die dialisemasjien weer koppel nie. Sy hartritme was uit en hulle moes hom skok. Pa was 100% by. Ma, Estelle en Hennie was by hom. Hulle het langs die bed gestaan terwyl hulle hom geskok het.

“Nadat hulle hom geskok het, het my Pa gese dit was erger as Guy Fawkes. Hy het om die bed gekyk, gesê hy dink almal daar is oud genoeg en toe ‘n grap begin vertel.

“Hennie sê sy bloeddruk was nie goed nie. Die personeel was baie besig om nog medikasie aan sy drup te koppel, ens. Pa sê toe vir Hennie: ‘Bokbout, ek dink nie hulle luister vir my nie.’ Hennie antwoord: ‘Pa, hulle is bietjie besig nou. Pa moet maar later die grap klaar vertel.’

“Die hartritme en bloeddruk het genoeg verbeter en Pa is weer aan die dialisemasjien gekoppel – maar met ‘n bloeddruk van 60/20 wat nie goed is nie.

“Hennie het die suster gevra en hy is ingelig dat Pa se prognose nie goed is nie. Sy het vir hom gesê as iemand hom wil sien, moet hulle nou kom. Ons het klaar gereel dat sy broer – Oom Henré – van die Kaap af sou vlieg Saterdagoggend. Coba (sy ander dogter) sou weer deurry van Nelspruit. Hennie het vir Ma ingelig sodat sy op hoogte van die situasie was. Dank die Vader, my Pa self het niks geweet nie.

“Nadat Pa geskok is, was hy baie dors. Hy het baie water gedrink en so twee keer vir Ma gese dat ‘n koue bier darem nou lekker sal afgaan. Ma het gevra dat Estelle (Hennie se vrou) vir die suster gaan vra of ‘n bier in orde sal wees. Die suster het gesê hul kan vir hom enigiets gee wat hy wil hê. Estelle reël toe dat Hennie (wat ‘n rukkie uit is) met ‘n bier en twee glase by die hospitaal opdaag. Hennie het die bier in die twee glase gedeel. Hulle het glase geklink. Pa het sy bier deur ‘n strootjie gedrink.

“‘Dit was darem nou lekker,” het hy sy genoegdoening te kenne gegee. Sy bloeddruk het so effe opgetel en nie lank daarna nie heeltemal geval. Toe maak hy sy oë vir die laaste keer toe. Hennie, Estelle en Ma was heeltyd by hom.

“Vir dié van julle wat wonder wat het dan van die grappie geword: My Pa het sy grappie vir die suster klaar vertel!

“Pa wou nie in ‘n bed eindig soos sy eie Ma nie. Pa wou nie aan masjiene gekoppel wees nie. Pa wou net sy groot ‘bang’ gehad het. Die ‘bang’ was toe nie só groot nie, maar hy het rustig en sonder pyn gegaan.

“”Enig in sy soort. ‘n Fantastiese Pa en wonderlike man vir my Ma. Ek het besluit om troos te vind in my 8-jarige Lechel se woorde. Ons het onlangs twee van ons troeteldiere verloor. Lechel het besluit dat Oupa nou mooi na Barney en Ginger kan kyk. Liefdegroete, Sonja.”

Aangrypend vir my dat Pieter tot op die laaste só aan homself getrou gebly het. In Bloemfontein het ons ‘n dokter geken wat altyd gesê het: soos jy gelewe het, sal jy sterwe. Pieter – immer die opgeruimde, opbeurende een – kon werklik op geen ander manier gesterf het nie.

Hy was hy tot die bittereinde.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page