top of page
  • Uitmelkbos

SUIKERBEKKIE-BOOM



In elk geval, die voëlsit, hoewel kleinerig, is sommer ‘n mooi, digte boom. Weet nie hoekom ons hom voorheen misgekyk het nie.

Naam ofte nie, geniet daardie boom nie juis drukke voëlbesoek op die oomblik nie. Die eer vir die grootste trekpleister hierdie tyd van die jaar kom die koraalboom toe. Die kleed bloedrooi blomme van die k-boom (in vergange tye onder ‘n ander politiek-sleg-inkorrekte k-woord bekend) lok suikerbekkies soos magnete. In tien minute het Tokkie twaalf suikerbekkies van drie soorte daar gewaar. Hulle sit nie juis nie. Die blitsige blertsies rooi, groen en wit dartel vrolik van blom tot blom.

Moet nog eendag daaraan proe. Daardie pragtige blom van hom moet immers uitermate smaaklik wees. Het al in die einste Sabiepark gesien hoe ‘n lekkerbek-koedoe met ‘n sliert koraalboomblomme in die bek staan.

Nog ‘n boom-“ontdekking” by die piekniekplek ná al die jare is weens die stuifmeel wat vanuit ‘n ylerige blaredos in ‘n ligte briesie soos ‘n kiesareëntjie neersif. Ons staan nadir, maar dis ‘n BZN – boom sonder naamplaatjie. Tokkie raai dis die een of ander wildesering. Roux Wilsenach se insiggewende boekie, Ken ons bosveldbome, bring gou die antwoord. Nie sering nie. Karee. Doodgewone, algemene karee. Tokkie onthou dadelik die karee in hul agterplaas op Bultfontein. Ouma Van Wyk se hoop stronke vir die vuurmaak was in sy gedugte skadu gestapel.

Inheems in die Wildtuin is die karee nie. Aangeplantes kom wel by Pretoriuskop voor. Dit vertel Piet van Wyk in sy beroemde Veldgids. Maar hoe kon iemand van my generasie ‘n karee miskyk? Hoeveel ketties en kleitlatte het nie in die prille jeug hul oorsprong in ‘n karee gehad nie? En die bessietjies? Heel koubaar vir ‘n kind se kake wat nooi ophou roer nie.

Die karee se buurboom, die worsboom waaronder ons Sondag ons frikkadelbroodjies en koue wyn geniet het, begin ook rooi blommetjies gooi. Die voorlente kom vroeg vanjaar. Sien ons dit dan nie des te meer nie in die knoppiesdorings wat plek-plek al in ‘n liggeel waas langs die Wildtuin se paaie pryk?

Die knoppiesdoring – geliefd by kameelperde ondanks die geniepsige dorings en ‘n bruikbare hout by die kampvuur – noem ek Tarlehoet se “nasionale boom”. Groot menere gooi langs skaduwees op ons boshuis. Maar ons s’n is altyd ‘n bietjie stadig as dit by blom kom. Wel, ons het darem nog twee weke voor die omdraai Melkbos toe aanbreek.

Hopelik trek die drolpeer ook nog in daardie tyd sy wit bruidsjurk aan (leer die gebruik van die word jurk in hierdie verband by Nederlandse Sabieparkvriende) en die sambokpeul sy helder goudgeel gewaad. In laasgenoemde swaai die “sambokke” van die vorige seisoen nog in die winterwindjie.

Niks anders kan die koms van die lente egter so vroeg so uitbundig aankondig soos die drolpeer en die sambokpeul nie. Glo my.

Drolpeer is nou weer ‘n anderster naam wat ‘n mens nie juis met trosse spierwit blomme (soos ‘n fraaie bruidsjurk) vereenselwig nie. Maar oor die oorsprong van sulke onvleiende boomname kan ongetwyfeld wonderlike stories vertel word.

Dink maar ook aan die gewone bokdrol, die perdepram (daar is ook ‘n kleinperdepram), die perdepis, die snotbessie en die muishondbos!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page