MOET dalk ‘n ouderdomsperk op hierdie stukkie plaas. Die gevaar bestaan dat byderwetse jong mense van meer resente generasies hulle uit lit uit gaan lag as hulle dit per ongeluk raaklees. Maar die waarheid moet uit. Kom wat wil.
Wat volg, is ‘n selfoonstorie met ‘n verskil. Die tema: twee van daardie noodsaaklike euwels wat saam wegraak. Skoonveld. Nogal toe ons van Bybelstudie terugkom die ontdekking gedoen.
Tokkie wat goed is met soek, het kaste deurgesnuffel, kussings opgelig en onder beddens geloer. Sonder vrug.
Toe kom ek vorendag met ‘n taamlik vanselfsprekende voorstel. Ons bel net my nommer op die selfoon. So gesê, so gedaan. Prr-prr-prr … “Van Deventer hier. Ek is ongelukkig nie op die oomblik beskikbaar nie.”
Plan B: Bel Tokkie s’n. Maar wat is die nommer? Sy ken dit nie. In haar adresboekie is nommers van ‘n duisend bekendes en onbekendes. Haar eie ontbreek. Dié goed bewaarde geheim word net op twee plekke verklap. Die een is agterop haar foontjie waar sy dit met kleeflint vasgeplak het. Die ander is op my lys kontakte, wat in die omstandighede natuurlik onbereikbaar is.
Kom ons bel Mariza. Dis ons skoondogter op George. Goed sy skakel dadelik ma se nommer. Maar .. stilte. Later wil ek my verbeel ek hoor ‘n bedremmelde geluidjie wat klink soos ‘n selfoon wat ver-ver om hulp roep. Maar waar is daardie ver? Dis waar die knoop lê.
Bel weer vir Mariza: Gee daardie nommer dat ek dit sommer met ons eie landlyn kan skakel. Skakel dit, skakel dit weer en skakel dit weer en weer. Dieselfde dowwe klankie bereik my ore. Soos ‘n fluisterende noodkreet of ‘n beswaarde wat diep sug. Maar dit bereik ook net my ore. Tokkie rapporteer sy hoor absoluut niks.
Die “missed calls” stapel op. Tot nommer 22 vorder ons nie juis nie. Net een leidraad kom mettertyd na vore. Die geluidjie hou op sodra ek die studeerkamer verlaat.
Probeer dan maar weer. Oproep nommer 23 lewer eers eenderse resultate as al die voriges. Maar tog. Klink – onwaarskynlik soos dit is – of die geluid uit die boekrak se omgewing kom. Dalk uit die onderste laai waar ek my kameras hou?
Ruk hom oop. Ja werklik. Daar lê die Blackberrytjie dapper en fluister. Net blerrie-blerrie saggies.
Het die ding klaarblyklik per ongeluk in die laai gesit saam met die kamera se battery wat pas klaar gelaai was.
Myne? Dié kry my vasbytervrou toe sy die derde keer die BMW gaan deursoek. Onder die bestuurder se sitplek. Hoe op deeske aarde dit daar gekom het, is onverklaarbaar.
Maar hie’rs ons toe, ‘n halfuur later, dankbaar en verheug met ons vermiste fone verenig.
Net so effens ongemaklik en verleë dat ons midde-in die soektog soms so lelik gepraat het – en dit ná Bybelstudie nogal.
Ook met mekaar nie oorvriendelik gewees nie – nadat ons juis pas uit Spreuke so mooi geleer het om die huwelik te koester.
コメント