top of page
  • Uitmelkbos

STUDENTIKOSE GRAPJASTERY


 Op een verhoog was ek wel. Dit het behoort aan die skouburg in Bellville se Burgersentrum.  Aan die einde van die ASB-kongres op Stellenbosch in 1961  is daar ‘n pryswennerskonsert aangebied. Die uwe, pas ook onder ‘n gejil en geproes aangewys as “direkteur van huweliksaangeleenthede” van die ASB (hoekom, kan ek nie onthou nie), was seremoniemeester.

 Niemand minder nie as Gladstone Louw (die befaamde W.E.G.) het vir Die Burger ‘n resensie kom skryf.  Die uwe is (nie onvleiend nie) vermeld vir sy “studentikose grapjastery”.  Maggies, was ek ingenome!   

 Van die inhoud van my “grapjastery” onthou ek min. Ek en Paul de Beer (in die middel in die voorste ry van die Tukkie-afvaardiging op die foto hierbo)  was in ‘n stadium in ‘n langerige tweegesprek waarin die een die ander probeer uitstof het in elementêre spitsvondigheid.

 Ek het Paul in ‘n stadium gevra of hy hom gate uit geniet (natuurlik ‘n taalkundige abominasie). Toe hy bevestigend antwoord, was my reaksie:  “O dis hoekom jy soos ‘n sif lyk”.   Paul het later prominensie verwerf as een van die sogenaamde “smeerbriefskrywers” teen John Vorster.  Op politieke gebied het ons paaie ver uiteengeloop.

 Ek het daardie aand ook die Pukke getart oor hul universiteit se destydse naam, die PU vir CHO. KWV was in ‘n stadium ter sprake, onthou ek.  Met die NKP (Normaalkollege Pretoria) het ek geskoor oor hul leuse wat my nou ontglip. Ek weet dit het bestaan uit drie woorde. Ek het daaromheen ‘n parodie gebou op die model van 1 Kor. 13 se geloof, hoop en liefde.

 As ek terugdink, was my “grapjastery” erg “studentikoos”. Eintlik bra simpel. Ek en ‘n Klerksdorpse buurmeisie, Annette van Wyk, (‘sy was n Matie wat nou mev. Anette Visser van Worcester is) het egter geruime tyd gedink ek is oulik.  My ego was gestreel. W.E.G. Louw se resensie het natuurlik ook gestreel.  Dink net:  HvD se naam op die beroemde bladsy twee (kunsblad van destyds) van Die Burger!   

Wat my nou beweeg om daardie ou koeie uit die sloot te grawe?  ‘n Berig vandeesweek op die nimlike Die Burger se kunsblad (lank nie meer bladsy twee nie)  oor ‘n nuwe lewe vir daardie Belville-skouburg.  Dit het ‘n vreemde trots by my gewek dat ek daar my buiging (sommer ook my slotbuiging) as openbare “grapjaster” gehad het.

 NASKRIF: Op die foto is agter Klasie van Vuuren, HvD, Wollie Wolmarans, Christine Basson en Leon van Rensburg. Voor is Piet Giliomee, Paul de Beer en … Wie nou weer?   Kyk die asbakkie. En het Klasie nie ‘n sigaret in die hand nie?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page