Die wonderlikheid van ons soete taal kom in vele segswyses en uitdrukkings na vore.
Twee in godsdiensverband wat al op hierdie blog aanghaal is, is:
Die kuddetjie tronkvoëls wat by die Sondagdiens agter die tralies lustig aanhef: “Liewe Vader, sien ons saam, hier op U bevel vergader.”
en
Die begranisondermer wat elke oggend bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Pierre le Roux van Mosselbaai vertel van die leraar van die Karoo wat in ‘n groot droogte die Here se hulp afsmeek, want “ons boere kan nie meer kop bo water hou nie.”
Die reën stort mildelik neer. Die dankbare leraar bid: “Here, ons het soveel stof tot dankbaarheid.”
Pierre kom ook met ‘n mooie Italiaanse ene vorendag wat niks met die kerk of geloof te make het nie, maar te oulik is om onvermeld te bly.
‘n Italianer vra ‘n groep Suid-Afrikaanse boere wat verwag hulle nou eintlik van Fiat-trekkers.
‘n Boer antwoord: “Die beste trekker teen die goedkoopste prys.”
“Meneer,” kap die Italianer blitsvinnig terug: “Jy soek jou vrou dronk en die bottel vol.”
Mooi ene vir “have your cake and eat it,” nie waar nie?
Comentários