top of page
  • Uitmelkbos

STOUT SANNIE, DOP EN SAMBOK


Skielik kry ek suspisie oor die motiewe van die ou wat sy Dina so naarstiglik soek.

 En daardie kompatertjie wat so doelgerig op die spoor van sy Nonnatjie (nonnatjie?)  bly?  Wat suggereer daardie “ligte verleiding” waarvan ons verneem?  Watter onheile broei nie uit nie as die kompater en sy Nonnatjie (nonnatjie?) dan later tot “laat in die nag” eindeloos  so bly “draai”,  “swaai” …. en “gly”?  

 Dan’s daar Boetie en die “perskeblom”, so “rosig fyn van kleur”. Dui “pluk haar in haar fleur” nie dalk in hierdie konteks op die een of ander vorm van seksuele molestering nie?

 Om van Oom Kallie nie te praat nie.  Hy met sy dop en sy “handsambok”. Drank en gepaardgaande geweld teen vroue …. Dit gaan eenvoudig van erg tot erger.

 Hierdie nadenke oor die lirieke van  Afrikaanse liedjies waarop ons van kindsbeen af tiekiedraai, het alles begin by ‘n kommentaartjie van “Perdebytjie” op ‘n vorige blog oor allerlei musiek-misgissings. Aanhaakpunt was die opgewekte “Gimme hope, Joanna” met sy politieke boodskap.  

 “Perdebytjie” het hardop gewonder of “Vanaand gaan die volkies koring sny” ‘n onskuldige liedjie oor ‘n doodgewone boerdery-aktiwiteit is.  Immer nuuskierig, wou die uwe dadelik weet: “Huh?”

 Die antwoord is in hierdie kolomme vir almal te lees.  Blaai net terug.  Waarop dit neerkom, is dat die onskuldige woorde ‘n seksuele konnotasie kan verberg. “Koring sny suggereer hulle gaan bietjie onder die komberse woel,” beweer sy. 


Oor ”my geliefde hang aan die bos”, stel “Perdebytjie” voor dat die uwe dit vir homself uitklaar.  Wonder of sy besef ek is 72. Nietemin, haar suggestie lei my toe na Facebook waarop ek by my vriende wil weet:

“Vanaand gaan die volkies koring sny, koring sny … Skurf of nie skurf nie? Iemand (nogal met die naam Perdebytjie!) beweer op my litnet.blog koring sny, is iets wat jy tussen die lakens doen. En hang aan die bos? Sy raai my aan om my eie verbeelding te gebruik. Kommentaar, ook uit FAK-kringe?”

Carel Weeber, seun van ‘n oorlede matriekmaat van dieselfde naam,  opper onmiddellik ook die kinderliedjie “Siembamba”, waaroor ook maar ‘n slang in die gras is – maar darem nie (so ver ek weet) iets onhebbeliker as dat dit oor ‘n regte mamba handel waarvan die kop vermorsel moet word nie. 

Kollega en vriend Ollie Olwagen laat weet:  “Dan is daar ook nog Sannie met die “skeurtjie in haar rokkie” wat moes trou nadat sy water by die dam gaan haal het. Of die nooientjie wat “in die moerbeiboom” geklim het om die smekende komponis te terg terwyl hy onder haar rokkie inloer.

“Ons volksliedjies is almal vreeslik pornografies … of is dit nou pornofonies?” meen Ollie.

Ten einde laaste kom Carel met die loeloe van ‘n skildery hierbo vorendag:  Sannie op pad water toe sans rokkie met ‘n skeurtjie, sans, trouens, enige beduidenis van ‘n rokkie of enige ander bedekking. ‘n Ruk gelede was daar opspraak toe die jong kunstenaar Lizelle Kruger se stoute Sannie so poedelkaal op die  voorblad van die tydskrif “Pomp” was.  Dit is daarna op ‘n veiling vir R47 000 aangebied. Carel se inligting is dat die prys wel gehaal is. Kaal betaal!

Miskien moet ek egter die onderwerp liewer net hier los en my aan stigteliker sake toewy.  Want hoe spreek die Hollanders nou weer: “Hoe dieper ik poog te delfte hoe meer verderf  ik ontmoet”!

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page