top of page
  • Uitmelkbos

STORMS TER SEE


Johan en Marisa by die Constellation wat sware storms moes trotseer.

Johan en Marisa by die Constellation wat sware storms moes trotseer.


In 1958, my eerste jaar op Tukkies, was ‘n liedjie oor ‘n droomboot wat nooit gevaar het nie, nogal gewild.

Op die koshuispiekniek moes Kollege se eerstejaars die seniors en hul meisies langs die kampvuur vermaak. Ek en Giel de Swardt en ‘n paar ander het “The ship that never sailed” gevoelvol voorgedra. Met sware emosie in my stem het ek die woorde gespreek: “I built a dreamboat to sail the seas with you on my side when it sailed …” Dan het Giel en die ander manne in die agtergrond harmonieus saamgeneurie.

Mooi, man, mooi. En baie romanties.

Nou het my eie “dreamboat” nie uit die hawe gekom nie. MSC het die vaart met die Sinfonia van more tot Vrydag gekanselleer. Die skip is in die Baai vasgekeer waarheen dit uitgewyk het nadat dit geweldige, onvoorsiene storms ter see op die vaart van Durban af moes trotseer.

Natuurlik het jy uitgesien. Wou graag die nuwe. groter Sinfonia (met die ingesweisde middelstuk) eerstehands ervaar. Daarom is jy teleurgesteld. Maar veiligheid kom eerste. Dus, ons stel maar uit tot Januarie 2017. Dan vier ons maar my 76ste op die Sinfonia se dek pleks van Tokkie se 70ste nou.

Ewenwel, die Sinfonia se teëspoed herinner my aan ‘n vaart met die Griekse lynboot die Constellation in 1985 na Mauritius. Maar die see was rof, hoor. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Die oggend om 04:00. Toe vorder ons weens die reuse-deinings boonop teen ‘n slakkegang.

In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer.

Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op Mauritius. ‘n Gedaan Vauxhall-taxi moes sy ry ken om by al die plekke uit te kom waar ons wou draai: Port Louis se mark, die Pamplemousses-tuine, Trou Aux Biches se akwarium, Le Touessrok en die eilandjie Ile Aux Cerfs waar die danseressies en die inhibisielose kollega tuis sou voel. Ons was net betyds vir die Constellation se vertrek op sy terugwaartse vaart met ‘n harde fluit en onaardse rammeling in sy enjinkamer.

Die ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei.


Uitgevat vir die kapteinsete.

Uitgevat vir die kapteinsete.


Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het. Vir die kapteinsete was die voorgeskrewe drag “black tie”, d.w.s. aandpak. ‘n Ander aand was daar ‘n kostuumbal.

‘n Skerpsinnige politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul nagtelike kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming.

‘n Boeiende roetine het hom amper elke uur op die uur afgespeel. Eers rys Mnr. Politikus waardig uit sy dekstoel. Hy staan nonchalant so ‘n bietjie rond. Hy kyk in alle rigtings. Daarna stap hy doelgerig na die trappies. Vir die volgende 20 minute of wat was hy dan afwesig.

Nou-ja, ‘n mens van vlees en bloed kan jou nuuskierigheid ook net so lank in bedwang hou. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna. Vir sy persoonlike moeite en opoffering kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatylywe nie, maar ook op die veel indrukwekkender proporsies van ‘n fris vroulike kollega van die tydskrifte-afdeling wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop kruip. Ook vir haar was die bodek die aangewese uithangplek vir haar daaglikse dosis sonaanbidding.

‘n Nare herinnering is van die uwe se duim wat in ‘n sware kolos van ‘n buitedeur se pad gekom het. Met die baftablou nael en ‘n kloppende pyn is ek na die skeepsdokter wat tot my ontnugtering wou weet of ek nie vir hom ‘n skuifspeld het nie. Sy behandeling sou wees om die skuifspeld warm te maak en dan ‘n gaatjie in die nael te druk vir die bloed om te ontsnap, het hy my meegedeel. Dit het my terstond laat besluit die pyn is nie regtig so erg nie.

Tokkie verbind die ongeluk by die deur nou nog met die gereelde uitstappies na die bodek. Hoe sy daardie vurk by die hef kry, weet ek nie. Dis sommer pure moedswilligheid, vermoed ek.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page