top of page
  • Uitmelkbos

STOEPSTANERS

Sabiepark se embleem is ‘n sebrakop. Die kop pryk lewensgroot by die grasdak-hoofingang van die private natuurreservaat langs die Krugerhek van die Wildtuin. Dit verskyn ook in swart op wit op elke stuk korrespondensie (en rekening!) uit daardie oord. Die park se sebras dink blykbaar die embleem verleen aan hulle ‘n spesiale status. Dalk beskou hulle die hoog-in-die-mode swart strepe op hul vet wit lywe as rangtekens wat hulle vir buitengewone regte laat kwalifiseer.

Tuiser as ‘n sebra sal jy immers nie sommer op jou werf aantref nie. Hulle palm dit behoorlik in. Groen graspolle en gerieflike drinkplekke is nie al wat hulle aanlok nie. Vir ‘n grasdak is hulle so lief soos ‘n skrophoender vir ‘n plaaswinkel se stoep. As die son steek, kom hulle graag onderdak koelte soek. As die reën neerswiep, annekseer hulle dieselfde ruimtes as skuiling.

Die stoepstanery kan nogal ontnugterende gevolge hê. Een eienaar was hoogs ontstoke toe sy met oorsese gaste opdaag. Haar stoep is, na ‘n deeglike skoonmaak deur Sabiepark-personeel, van hoek tot kant as ablusiegerief benut. Die hele wêreld het soos ‘n perdestal gelyk en geruik. Die gasvrou moes eers ‘n paar trae sebras verjaag en tuinslange uithaal voordat sy die koffiewater kon kook.

By Tarlehoet is strategiese kettings aangebring om sebras van die stoep af te hou. Nie dat ‘n mens die gawe diere met die kwik op bloedige somervlakke ‘n blaaskansie misgun nie. Maar jy mis tog liewer so ‘n huisbesoek. Anders weet jy wat jou voorland is. Jy sal jou rug moet buig om die bolle op te tel. Laat daaroor dus geen misverstand wees nie: Tarlehoet se kettings verrig ‘n noodsaaklike funksie.

‘n Afdak van groen skadunet is ‘n gewilde alternatief. Ons eie groen afdak is met groot persoonlike moeite en ongerief vir die Van Deventervoertuig opgerig. Sodra die motor verwyder word, kommandeer die sebras dit egter telkens vir ander doeleindes op. Die huislike toneeltjie van ‘n ma wat houtgerus haar vulletjie onder jou afdak staan en voed, is vir ons geen vreemde gesig nie. En moenie praat hoe teësinnig die “besetters” dan is om die “verowerde gebied” prys te gee nie!

Sebras het die gewoonte om jou boompies te kom buig terwyl hulle nog jonk is. Letterlik. Wanneer sebralywe jeuk, loop hulle sommer goedsmoeds bo-oor die eerste, beste boom, neem wydsbeen stelling in en skuur die pense tog te lekker teen die takke met ‘n salige uitdrukking op die gesig.

Vir die bome self en vir hul groen plastiek-naamplaatjies is die sebramanier van krap dikwels nie voordelig nie. In ‘n stadium was meer as 40 soorte Bosveldbome op Tarlehoet geïdentifiseer en by die 50 groen plastiek-naamplaatjies aangebring. Maar elke vakansie is nuwe skade te bespeur.

My enigste suurpruim is plaatjie en al uit die grond geloop. Dit het ek nie op prys gestel nie. Tokkie was ooggetuie toe ‘n halfdosyn sebras by ‘n jong appelblaar beurte maak om te trap en te krap. Na die mishandeling bestaan geen twyfel meer oor die oorsprong van my plaatjieverliese nie.

Wanneer Sabiepark se sebras jou met hul teenwoordigheid kom vereer, kan hulle egter ook in jou hart kruip. Die bedaarde diere kan ure lank rustig rondom die huis kuier. Van tyd tot tyd sou jy oor die voorstoep se lae muurtjie op ‘n drilvet boud kon klop. Andere kere kom hulle wei-wei tot byna op die oop agterstoep. In ‘n stadium het ons vermoed een troppie het Tarlehoet sy hoofkwartier gemaak. Die konstante teenwoordigheid was veel eerder ‘n bron van vreugde as van ergernis — al het een onverskillige blikskottel ‘n opgeskote blinkblaar-wag-‘n-bietjie platgetrap.

Dieregedrag is nie altyd maklik te verklaar nie. Twee Sabieparkse sebra-galoppe val in daardie kader. Die een het hom voor my afgespeel. In Wildevylaan wat voor ons huis verbyloop. ‘n Vreemde sebra-“hendikep” is in dié straat uitgespook.

Twee baldadige sebras, geslag onbekend, hardloop eers voluit van wes na oos verby piekniekplek se kant toe. Kort daarna dreun die hoewe terug weswaarts. Nog nie klaar gebaljaar nie, draai hulle weer in hul spore om vir ‘n derde naelloop. En ‘n vierde een. Later kom hulle op Tarlehoet se werf ‘n blaaskans vat. Maar na vrolikheid kom olikheid. Een ou was bra mankerig. Seker ‘n spierbesering of ‘n geskeurde ligament.

Al lekeverklaring wat ek kan aanbied, is lewensvreugde weens reën. Na ‘n dorre vroegsomer het die eerste welkome buie pas uitgesak. Eers was daar ‘n sagte bui: 7 mm. Toe kom ‘n harde stortbui: nog 15 mm. In die veld het oornag ‘n metamorfose gekom. In die diere se bewegings was eensklaps ‘n huppel. Die paddas het vir ‘n vale begin kwaak. Dik duisendpote het oral uitgepeul. En twee uitgelate sebras het blykbaar mekaar uitgedaag…

Galop nommer twee se slagoffer was ‘n splinternuwe bussie. Eddie en Marie Haumann van Bloemfontein het pas vir ‘n kort vakansie opgedaag. Naby hul huis sien hulle toe twee sebras oop en toe in ‘n motorpad aanstorm. Die egpaar hou stil om te kyk waarheen die twee só in aller yl op pad is.

Op die laaste nippertjie swaai die een weg. Hy mis die bussie net-net. Die ander een gooi ankers uit, maar dis te laat. Die verskrikte sebra skuif met ‘n luide slag teen die metaal vas en beland op die enjinkap van die voertuig (gelukkig een van die moderne snoetbussies met die skuins ruite). Hy tref die voorruit met voorspelbare gevolge. Daarna draf hy verleë weg.

Gelukkig is geen ‘derdeparty’-skade aangerig nie. Maar bedink Eddie se gesprek met sy versekeraar: “Ek wil ‘n eis indien na ‘n botsing. My voertuig het doodstil gestaan toe ‘n ongelisensiëerde sebra daarteen bots. Dit was alles sy skuld, want dit was nie op ‘n sebra-oorgang nie!”

Sekere sebragedrag is weer uiters voorspelbaar. Iris Coetzee is aan die woord:

“Ek en my man, Dirk, is nou in daardie goue jare dat ons vier maande aaneen in die salige Sabiepark kan bly en vier maande in die Kaap met die see aan ons voete. Die ander tyd ry ons rond. Eintlik is ons huis in ‘n aftree-oord in Johannesburg. In die Kaap maak ons vriende met ‘n Namakwalandse egpaar, so aards as kan kom. By hulle leer ons ‘n uitdrukking oor mense wat mekaar goed ken: Hulle p**p sommer voor mekaar.

“Terug in Sabiepark, spuit Dirk die grasstoppeltjies voor die huis ‘n bietjie nat. Net toe ‘n groenigheid begin deurslaan, ontdek die sebras die lekker kos. Dit maak Dirk vies. Hy wil nie hê hulle moet sy gras afvreet nie, en jaag hulle aanhoudend weg.

Na die soveelste probeerslag kom hy baie ontevrede, brom-brom die huis in: ‘Hulle dink blykbaar ons is vriende. As ek hulle wegjaag, dan p**p, p**p hulle net aanmekaar!’ ”

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page