top of page
  • Uitmelkbos

STINKRYK VIR LEKKER RUIK


‘n Prys-naïewe mens soos ek – noem dit dalk eerder prys-onnosel – is in vir ‘n paar skokke op elke uitete, inkopietog, vakansie of wat ook al – jy betaal deur jou nek, pappa – dikwels vir iets wat nie naastenby soveel vir jou werd is as jy maar sou dink voor jy doen nie.

Gister koop my vrou vir my ‘n nuwe botteltjie naskeer terwyl ek in die motor sit en wag. Die selfoon piep-piep met die nuus van die aanslag op die kredietkaart en ek val amper van die sitplek af. Ek het eerlik nie besef wat die goed kos nie. Nie naastenby nie. Sou verwag het om nie ‘n kwart van die prys te betaal nie.

Tokkie paai: dit is nie buitengewoon duur nie en die produk ook niks vreeslik buitengewoon of eksklusief nie. Maar ek bly diep ongelukkig. Sy is vanoggend terug winkel toe om die pakkie te gaan teruggee. Voortaan gebruik ek net die goedkoopste op die mark. Laat mense gerus maar neus optrek vir my “banale, voorstedelike” aroma. Solank ek skoon is en my vel nie brand of jeuk nie, is ek tevrede.

Daardie onweerstaanbaarheid vir smeulende meisies wat veral die “sexy” TV-advertensies belowe, is immers nie meer vir die uwe ‘n lewensvatbare opsie nie!

Het iemand al die moeite gedoen om die prys van naskeer per liter te bereken? Om lekker te ruik, moet jy skynbaar stinkryk wees! Die arme vroue se parfuum is natuurlik nog duurder. En hul lipstiffies. En hul maskara. Eintlik alle kosmetiek. Dikwels word ‘n stokou produk net anders verpak en onder ‘n nuwe naam bemark dat dit bars. Mense – vroue (én mans) – betaal gewilliglik ook ‘n nuwe prys.

Wat sou dit so duur maak? Die mens se ydelheid? Sy sug na status? Sy dwaasheid? Slim advertensies? Seker tog nie die tegniek of inhoud nie – dit kan tog nie só ingewikkeld of onbekombaar wees nie. Daar is mos nie engeltjiepiepie in die bottel ne.

Sogenaamde “ripoffs” is volop op elke lewensterrein – dink maar aan die prys wat jy dikwels vir ‘n doodgewone bottel wyn in ‘n restaurant moet opdok of vir ‘n piepklein pakkie grondboontjies uit die sogenaamde “mini-bar” in die hotel. Om ‘n SMS af te lewer, kos die diensverskaffer glo ‘n fraksie van wat jy betaal. Vergelyk die prys van kiepiemielies by die fliek met dié van filet (per kilo, natuurlik) in die supermark en hartkloppens is gewaarborg.

Dikwels is dit die attraksie van ‘n handelsnaam wat deurslaggewend is vir die mal prys wat die vervaardiger mag vra. Dit geld nie net vir sportskoene nie (Nikes, o Nikes!), maar selfs vir pynstillers. Moenie van die houertjie ink vir jou tuisdrukker vergeet nie!

Die kultuur van gebottelde water is aan my relatief onbekend. As ek hoor wat prysgewys op daardie terrein aan die gebeur is, bly ek liefs ver weg. Ja-nee, HvD is ‘n kraanman en hy is nie skaam om dit te erken nie.

Die verskil tussen ‘n “ripoff” en ‘n “scam” word op internet so verduidelik: by laasgenoemde word jy verneuk, by eersgenoemde laat jy toe dat jy soos ‘n lam ter slagting uitgebuit word omdat die vervaardigers, bemarkers, ens. die regte snaar by jou tokkel.

Dit maak die arme verdrukte koperskorps teen eersgenoemde só magteloos – dis hul eie brose ego’s wat hulle dwing om te bars en betaal (die wet van Transvaal) net om nie agterlik, eenvoudig of uit te voel nie.

My voorneme is om op 71 te begin om ‘n studie van pryse te maak – en voortaan geen sent meer te betaal as waarvoor ek ná sorgvuldige oorweging van die waarde van en my behoefte aan die betrokke produk nie. As ek sonder iets duurs kan klaarkom, dan kom ek daarsonder klaar … kant en klaar.

Waarsonder ‘n mens natuurlik nie kan klaarkom nie, is kos. Maar hierdie oom het ook t.o.v. die daaglikse spyskaart goeie advies. Eet groente en nogmaals groente, vriende. Wat jy nie als in ‘n R100-kombo vars van die plaas kry nie, is iets om oor huis toe te skryf. Met groente is die arme boer die slagoffer van ‘n “ripoff” voel ek – terwyl die middelman en die verbruiker die hele pad bank toe lag!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page