Steve Hofmeyr bespreek DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, deur Lindie Koorts. (Boeke24) Is daar geen einde aan Steve Hofmeyr se talente nie? Hy doen Neil Diamond net so goed soos tee-gooi, hy dig, sing en skryf net so knap soos hy min. Op Radio Kansel was hy al gewikkeld in intellektuele kragtoere – en hier skryf hy ’n resensie wat enige boekeredakteur sal laat voel dat hy nog nooit ’n beter keuse vir resensent gemaak het nie. Hofmeyr raak heelwat dinge kwyt oor geskiedskrywing en in die proses toon hy dat hy nie alleen aanvoeling vir en kennis van die konteks het nie, maar spreek hy ook menings uit wat polemies en uitdagend is. Dít is die Hoogste Goed van resensies: ’n resensent wat iets unieks te sê het, en dan nog heelwat meer ook aanbied. Lindie Koorts sal die ontvangs van haar boek meet aan hierdie resensie.
Peter Pentz bespreek Spring, deur Fanie Viljoen. (Boeke24) Dié resensie sal nie veel lesers prikkel nie. Peter Pentz kan Afrikaans amper goed benut, maar ek sou nie sê dat sy resensie eintlik sal spreek tot lesers wat hou van resensies met substansie en blyke gee van genuanseerde denke aan die kant van die resensent nie. Ek sou wel sê dat hierdie resensie onder die vyf swakstes tel wat nog ooit deur Boeke24 gepubliseer is.
Leon van der Vyver bespreek Baasspeurder Blomkvist in die knyp, deur Astrid Lindgren. (Boeke24) Ek het Baasspeurder Blomkwist in die knyp op my boekrak. Gepubliseer in 1979. Leon van der Vyver verswyg die feit dat hierdie ‘n heruitgawe is. Dalk het dit net nie onder sy andag gekom nie. Maar om ’n hele resensie te skryf en nie te snap dat die boek in gans ’n ander tydsgewrig geplaas is nie, en dan nog uitsprake te maak oor die ouderdomsgroep op wie die boek kwansuis die beste ingang sal vind, dít is doodgewoon slordige werk. Vir al wat ek (as ou leser) weet, het die uitgewer die boek in n nuwe tydsgewrig laat oorskryf. Dán was dit steeds die resensent se plig om die transponering te noem.
Erika de Beer bespreek Raaiselspieël, deur Chanette Paul. (Boeke24) Lekker storie, hierdie een van Chanette Paul wat Erika de Beer netjies in vyftien paragrawe opsom en kritiseer. Sal my ’n paar maande neem om die resensie te vergeet, en dan sal ek die boek probeer lees.
Comments