top of page
  • Uitmelkbos

STER WAT STEEDS SKITTER

Heelparty kindersterre verskiet – dis treurig maar waar. Ander vervul hul belofte en skyn net helderder.

In ‘n glansgedenkblad by die 30ste herdenking van Volksblad se Matriek-van-die-Jaar-wedstryd kon ek die paadjies volg van die matrieknooiens wat in my tyd as redakteur, van 1980 tot 1992, die kroon gedra het.

Een wat allesbehalwe verskiet het, is Margaret Nienaber (née Wessels) op die foto’s – bo, met die elegansie van volwassenheid, en onder, die toonbeeld van jeugdige belofte waar die uwe – die “Vader van die Matrieknooiwedstryd”, soos dit destyds bekend was – aan haar as wenner in 1991 ‘n ruiker oorhandig.

Hierdie oopkop-dogter van prof. Basie Wessels was destyds hoofmeisie van die Meisieskool Eunice in Bloemfontein. Sy het daarna die grade B. Comm en B. Comp. Honneurs aan die UV behaal. In 1997 het sy as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer.

In die korttermynversekeringsbedryf het sy groot hoogtes bereik. Dit sluit o.m. in dat sy die eerste vroulike uitvoerende beampte in Santam se bestaan van 90 jaar was en in verskeie direksies gedien het. Onder haar leierskap is ‘n vennootskap in Indië in 2008 gevestig.

Sy het daarna die bankbedryf aangedurf en is vandag die uitvoerende hoof van Standard-Bank se Private Kliënte-afdeling in Suidelike Afrika – wat op die behoeftes van rykes fokus. Wil gedoen wees!

Sy en haar man, John, ‘n sakeman, woon in Morningside, Sandton, speel gholf en reis graag, lees ek in die gedenkblad. Hul gunstelingplek is New York. Ook hierdie brokkies verklap sukses.

Margaret het darem nie net blomme gekry as Matrieknooi nie, maar, ook soos al die ander, ‘n stewige studiebeurs. In haar wenjaar het boonop die eerste keer ‘n wenmotor bygekom : n Golf, geskenk deur Phoenix Motors.

Vir Lukas Theron wat destyds baas van Phoenix was, het ek n.a.v. die gedenkblad ‘n boodskappie gestuur:

From: hennievd [mailto:hvandeventer@mweb.co.za] Sent: 24 October 2010 03:49 PM To: Lukas Theron Subject: Golfie

Lukas Jy kan bors uitstoot oor die eerste matrieknooi vir wie jy ‘n Golfie gegee het!

HvD

Lukas het geantwoord:

Hennie,

Ek wonder nou net of sy nog vir ons onthou, of – beter nog – die ou Golfie?

Lukas

Ek dink darem so, Lukas – die Matrieknooikroon was immers iets baie spesiaals, wat ‘n pragtige aand was die bekroningsdinee nie, en ‘n mens se eerste motor, soos jou eerste liefde, vergeet jy mos nooit!

Nietemin, ons kan almal bors uitstoot, dink ek, dat ons in 1991 sulke uitsonderlike talent raakgesien en bekroon het – die bestaansrede van die wedstryd van die begin af.

Ongelukkig het nie al die Matrieknooi-wenners sulke diep spore getrap nie. Heelparty kindersterre verskiet … (HvD).

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page