top of page

STEM VROEG, STEM REG, STEM DIKWELS!

Uitmelkbos

Stem vroeg, stem reg, stem dikwels. Dit was op X-dag die slagspreuk in die ou dae toe ‘n onnoembare bedeling in gang was en ‘n party wat, ter will van politieke korrektheid, liefs Zonder Naam moet bly, nog die ondemokratiese septer in ons verskeurde landjie geswaai het.

Wantrouiges oor daardie bose generasie sal terstond uitoep: “A, uitgevang!” Kon ons ou klomp werklik so onder morele degenerasie gebuk gegaan het, dat ons, volgens ons bekrompe siening van die belang belang van volk en vaderland, stemvee sou aanmoedig om goedsmoeds die wet te oortree en onwettig meervoudige stemme op die een of ander slinkse manier uit te bring?

Onstspan. mense, ontspan! Die “stem-dikwels”-been van die driehoek was ‘n stukkie ligsinnige vrolikheid – humor, pret, grapjastery. Onskuldig. Nie ernstig bedoel nie.

Deesdae is dit anders. Darem nie die Brigalia Bam-brigade as die nasie opruk om of vir die ANC ‘n tweedederde-meerderheid te besorg of dit te probeer fnuik nie, maar in elke ander stemmery is die beginsel van “stem dikwels” die goedgekeurde norm (toemaar, ek weet sy is nou afgetree, maar ek weet nie hoe om die naam van haar opvolger te spel nie).

Skaamteloos word mense deur gerespekteerde instansies soos RSG (en mooi gesigte van RSG soos Amore (Amorei) Bekker) opgevorder om hul burgerlike plig by herhaling te doen. Op Mxit, hoor ons, kan jy teen 2c per gooi vir Tafelberg stem – d.w.s ‘n 100 stemme teen die prys van een stem per SMS. Dis ‘n winskoop, mense. Wees tog patrioties! Laat die vingers fladder!

Wen is nie meer meerderheids-gedrewe nie, want des te flinker jy kan organiseer en mobiliseer, des te rooskleuriger raak jou kanse om met die kroon weg te stap. Mintag, toe die vingers vir Tafelberg lostrek, hier styg die barometer skielik met rasseskrede … op, op, op abseil ons berg teen die gewildheidsleer, oornag van diep in die dieptes van ongerekendheid tot verby die afsnygrens op pad na glorie en biljoene se beleggings vir die Moederstad. Werkgeleenthede, mense, werkgeleenthede by die kruiwa-vol! Uitasem jubel die Frans Stroebels en andere.

Niemand vra: wat as die berg nou uiteindelik Mohammed bereik en die toeriste Boeings-vol instroom om die “nuwe wonder” te kom bewonder, maar die skare nuutgewerfde arbeiders raak lui of gatvol en begin hul klimstewels uittrek soos nou se stakers op Robbeneiland nie? Skande en skaamte wag dan, of hoe?

Askies, maar ek ly nou eenmaal aan die kwaal om oor sulke dinge te wonder, en ek glo nie my wonder is altyd ‘n ipekonder nie.

Maar waarom die berg-kampanje alleen vir vermelding uitsonder? In die koerant lees ek nou anderdag die vrou van ‘n bekende atleet wen ‘n motor in dieselfde “ysterman”-kompetisie wat haar man gewen het. Haar prestasie? Dat sy die meeste stemme vir die wenner kon monster. Baie lojaal binne huweliksverband, natuurlik, maar na my oumens-oordeel op vele gronde as gesonde praktyk bevraagtekenbaar.

In Idols, liewe Idols, kom die wenner tweede en die naaswenner eerste – alles weens ‘n verstopping in die stemvloed van “fans” wat soos betaalde roubeklaers hul ding doen om die uitslag te bekook.

Selfs op onse ou dorpie by die see spring ons hierdie nuwe mode van die moderne demokrasie nie vry nie. By die Bybelstudie, nogal, kom ‘n dierbare vriendin aan met ‘n dringende oproep: stem vir my kleinkind, asseblief – “stem vroeg, stem reg, stem dikwels” – sy’s ‘n finalis in die een of ander gedoente op die radio.

Met dié twyfelagtige kultuur al so sterk gevestig, so aanvaarbaar en so sonder wetlike of morele versperring, is ‘n uitkringende effek dalk nie snaaks nie. Hoor ons nie soms al fluisteringe van meer stemme wat by stembus A, B of C in die Groot Eleksie (algemene verkiesing, bedoel ek) uitgebring word as wat daar kiesers was nie? Of so iets, in elk geval.

Hele moeilikheid vir ons ouer garde, ons hele helse gesukkel om by allerlei nuwerwetsighede aan te pas, wil al hoe meer vir my lyk of dit tot ‘n definïeerbare oorsprong teruggevoer kan word: duidelik het wat in ons tyd grapjastery was, nou dodelike erns geword!

Soos my jernalis-kollega Johan van Wyk radeloos sou uitroep: Ohopoho! (As jy nie weet wat dit beteken nie, gebruik jou verbeelding. Dink aan Tiger Woods se joggie!)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Yorumlar


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page