
In die kerk sing ons gister van die “stemme uit die ou verlede” wat oor die “sterrevelde ruis” (Welkom, o stille nag van vrede). Kort daarna kom hier werklik ‘n stem uit die ou verlede op Melkbos aange-“ruis”.
Dat die e-pos-briefie aan “Oom Hennie en juffrou Tokkie” gerig is, verklap iets van hoe oud daardie verlede is. Die skrywer (wat nou ook al 52 jaar oud is) het in standerd drie (vandag se graad vyf) by Tokkie musiek geneem in Kmdt. Senekalstraat 33, Bloemfontein.
Dié musiekleerling was Belinda Bonthuys (nou Belinda Terblanche) en haar pa was die alombekende Bontie Bonthuys van “Bontiesigns” wie se huis ons later (in 1980) gekoop het toe ons vir ‘n tweede skof Bloemfontein toe is.
Belinda skryf Tokkie was swanger (met Marisa), en sy onthou hoe warm “Juffrou” daardie tyd voor die klavier gekry het tydens haar lesse. Sy skryf ook sy kry “nou nog die lekker ruik van jul huis as ek ingestap het!” Watse reuk dit kon wees, kan ek en Tokkie nie raai nie (dalk my geurige Rembrandt van Rijns!).
Belinda het op ons webwerf (www.hennievandeventer.com) afgekom in ‘n soektog na Nancy Ames (ook een van ons gunstelinge ) se musiek – spesifiek die pragtige “Cu cu rru cu cu Paloma”.
Sy meld dat haar pa, Bontie, op 2 Desember al 11 jaar oorlede was. Hoe goed onthou ek nie die ou langeraat nie! Hy was ‘n Noordwester in murg en been, en versot op Elizabeth Vermeulen se stories oor sy streek. Boeke soos “Temmers van die Noordweste”. Daarom het hy sy huis “Tarlehoet” gedoop – die naam, van ‘n Boesman-karaktertjie in een van Vermeulen se verhale (ook sy yslike woonwa).
Ek kon Belinda meedeel ‘n hoofstukkie oor “Bontie Bonthuys – Tarlehoet se baas” verskyn in my jongste boek, “Byl in my Bos” (Griffel Media 2009). In die boek is ook ‘n foto van die Boesmantjie “Tarlehoet” soos hy by die voordeur van Van Schoorstraat se huis gebrandskilder is (foto hierby). “Tarlehoet.” Dit was nie net die naam van daardie gewese Bontie-huis waar ons gesin twaalf jaar lank gelukkig gewoon het nie – van 1980 tot 1992. Dit was ook die naam van die beslote korporasie agter die karaktervolle geskenkwinkeltjie “Tokkie” in die Mimosa Mall, Bloemfontein, wat vir my vrou baie plesier gegee het
Vandag, met Bloemfontein se stof al amper 20 jaar van ons voete geskud, leef die vreemde naam “Tarlehoet” steeds op twee maniere in die Van Deventers se lewens voort: as private uitgewer en op die sierlike stuk swarthout by die ingang van Wildevylaan 154, Sabiepark, ons bosplek waarheen ons weg breek as ons sielerus soek, en waarvoor ons elke keer ‘n bietjie liewer word.
“Kroniek van ‘n Koerantman”, my boek oor die Afrikaanse koerant se rol in hervorming, is onder meer in 1998 deur “Tarlehoet” uitgegee.
Ek kon Belinda ten slotte meedeel ‘n stuk houtsneewerk met sebras en ‘n luiperd deur haar suster Sonja hang in daardie einste boshuis, waarheen ons juis Saterdag weer op pad is. Salige gedagte! (HvD)
Naskrif: Met “Cu cu rru cu cu Paloma” sal ek Belinda met graagte help. Die langspeelplaat waarop dit voorkom, is een van my musiek-kleinode.
Comments