top of page
Uitmelkbos

STATUS AAN JOU BAS!


‘n Satussimbool verklaar die HAT, is “ ‘n uiterlike beeld van ‘n persoon se vernaamheid, bv. ‘n swierige motor, deftige kantoortapyt.”

Die swierigheid van jou huis weerspieël gewis jou stand (of ten minste die stand van jou bankrekening). Ook jou gholfklub. Jou horlosie. Die handelsmerke van jou klere en skoene.

Selfs jou vrou (die sogenaamde “trofeevrou”), of die koffiewinkels waar jy of sy rondhang.

As jy baie ryk is, is die fabrikaat van jou private vliegtuig sekerlik ‘n simbool van jou status – en as jy net welvarend is, die feit of jy eerste klas vlieg of “net” besigheidsklas.

Maar moenie dink dis net ryk mense wat statusbewus is nie. In armer gemeenskappe is die besit

van ‘n selfoon dikwels die groot onderskeid tussen “hetters (haves)” en “nie-hetters (have nots). Agtergeblewenes in lande soos Rusland en China heg groot waarde aan ‘n beskeie pakkie Marlboro-sigarette.

In die 80’s was ‘n pakkie Marlboro in Rusland ‘n omkoopgeskenk duisend. Dit het vir ‘n mens (ook vir die uwe) byvoorbeeld toegang verkry tot restaurants waar jy sekondes tevore by ‘n toe deur bot weggewys is.

My swaer Fanie wat in ‘n aftree-oord woon, het agtergekom dat jy in daardie wyke aan ‘n eie stel maatstawwe gemeet word. Hoeveel hartomleidings jy al gehad het, bepaal onder meer of jy byhou by die Vannermerwes (“keep up with the Jones’s”) of nie. Ook hoe groot jou skoonseun se plaas is. En in hoeveel lande jy al voet gesit het.

Die slegte nuus uit Penguin Place 11 is dat HvD geskeduleer is vir n heupvervanging. Die proses om daarby uit te kom, het my met nuwe statussimbole laat kennis maak. Die kritieke vrae is

“watter dokter”, “watter hospitaal”, “watter tegniek” (word dit “ingekap” of nie)?

Ek het altyd geglo die beste hospitaal vir jou, soos die beste skool vir jou kinders, is die een die naaste aan jou huis. Aikona. Jy kan bors uitstoot as die regte man met die regte tegniek in die regte hospitaal in jou geval die skalpel gaan hanteer, al moet jy ook daarvoor lang togte aandurf … en dubbel betaal.

Ja-nee, jy voel die status deesdae in meer as een opsig dubbel en dwars aan jou bas!

Die groot nee-nee is om ‘n knie-man jou heup te laat vervang of ‘n heup-man aan jou skouer te laat opereer. Pleeg jy so ‘n dwaasheid moet jy maar jou bek hou waar oor dokters, hospitale en snytegnieke gepraat word. Jy is eenvoudig nie in tel nie. Arme sot

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page