top of page
  • Izak de Vries

Statements after an arrest under the immorality act

Dis nou al ’n week sedert ek die stuk, deur Athol Fugard, in die Fugard Teater gaan kyk het. Eish. Jammer. Die werk hou nie op nie.

Aanvanklik was ek bang hierdie stuk sou dalk sy relevansie verloor het in die nuwe Suid-Afrika, maar ek was verkeerd. Dit handel immers oor twee mense wat gevang word nadat hulle seks gehad het oor die kleurgrens heen – hemel selfs “kleurgrens” is ’n argaïese woord.

Tog: die wette het verander, maar mense se houdings nie.

En dis wat die stuk steeds interessant maak. Vandag sou die lang arm van die gereg nie ingryp nie, maar ek weet hoe party van my landgenote (wit en swart) steeds teen gemengde verhoudings is.

Neem nou maar die relletjie wat uitgebars het oor die DA se plakkaat. Die herrie het oor en oor bewys dat die DA reg was om dit op te sit.

Maar het die DA ver genoeg gegaan? Sou dit DA dit waag om ’n wit meisie in ’n swart man se arms te laat? Sal die DA twee mans of twee vroue op hulle plakkate sit – soos Zapiro hier gedoen het?

En dis wat die stuk relevant maak.

Die akteurs is deurgaans kaal op die verhoog – hulle staan letterlik kaal voor die oë van die gemeenskap.

Malefane Mosuhli is puik in die rol van die man wat eintlik skaam is oor sy verhouding met hierdie vrou, wat kwaad is dat hy moet kruip om by haar uit te kom en wat erken dat verlam is deur sy eie ontoereikendheid.

Bo Petersen is die pragtige wit vrou wat die seks inisieer. Sy dra die hardkoppige karakter van die kleindorpse maagd (tot die “ding” met ’n donker man) baie goed oor.

Jeroen Kranenburg is meesterlik in die rol van die polisiesersant.

Kim Kerfoot is die regisseur, terwyl Guy de Lancey die stel ontwerp het. Die ontwerp is, terloops, wonderlik – jy loop in die boekwêreld in, maar dis ’n ongeorganiseerde, deurmekaar wêreld – wat ’n metafoor vir die stuk wat daarin afspeel!

Hoewel Statements after an arrest under the immorality act oud is (veertig jaar), en hoewel die wette verander het, beveel ek steeds die stuk sterk aan. Al is dit om te droom dat niemand meer oor ’n paar jaar vreemd sal kyk na gemengde paartjies nie.

5 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page