top of page
  • Uitmelkbos

SPRONGE VAN TIEN JAAR


 Terugflits twee – tot 1962

Die Afrikaanse begrippe “met rasse skrede” of “hand oor hand” vat dit nie vir my heeltemal raak nie. Die Engelse “by leaps and bounds” is meer in die kol as ek die filosofiese gang van my gedagtes vandag in woorde wil gestalte probeer gee.

 ‘n Broodnodige ordening van ‘n deurmekaar studeerkamerkas (die Engelse “spring clean”) het die spulletjie aan die gang gesit. In die kas was allerlei rommel, maar ook ‘n fotoboek van die Van Riebeeckfees van 1952 en ‘n Tukkie-jaarblad (Trek was die naam) van 1962.  Presies ‘n dekade het van die een tot die ander verloop.

 By die Van Riebeecfees was ek teenwoordig as 11-jarige (korrek) seuntjie in standard vyf aan die Hoërskool (korrek) Port Natal in Durban – die verste en langste  wat ek nog van die huis af weg was.  Ons skoolgroep het per trein gereis en het by die Kenilworth-perderesiesbaan tuisgegaan.  Ons het indrukwekkende optogte en tablo’s  gesien, en ook hoe Daphne Hasenjager die Nederlandse Olimpiese kampioen Fanny Blankers-Koen in die 100 tree kafdraf.


Terugflits een – tot 1952


Tien jaar later, in 1962, was ek in my laaste jaar op Tukkies.  In die jaarblad met onder andere die bekende Nic de Jager in die redaksie figureer ek onder meer  as skraal finalejaarstudent wat, hoed op die kop en met ‘n skreeulelike streeptrui, jaarblaaie in ontvangs neem van die redakteur, Sampie Golden, latere Hervormde dominee, LV en ambassadeur. Ek figureer voorts as huisvoorsitter van Kollegetehuis saam met o.a. Pierre le Roux, latere koöperasie-grootbaas en steeds ‘n goeie vriend saam met wie ek weer in Julie in die ongerepte Balule in die Kruger-wildtuin gaan kuier. Ook Piet Theron, jarelange Volksblad-kollega wat onlangs in die nuus was as redakteur van die boek “Belhar geweeg”.  Een van ons HK, Hennie Smit, hoenderboer van Potchefstroom, is reeds oorlede.

 Die ontdekking van hierdie twee publikasies noop my om in dekade-terme na my lewe te kyk.   Die spronge raak enorm en beklemtoon des te meer die vinnige verloop van die lewe.  Meen te sê, tien jaar voor 1952, in 1942, was ek ‘n pokkeltjie op my pa, Seun van Deventer, se skoot langs ons plaashuis by Babanango in Noord-Natal.  Pa Seun is halfpad deur daardie dekade, in 1946, skielik oorlede.  

 Tien jaar na 1962, in 1972, was ek nuusredakteur van Die Volksblad, vyf jaar getroud met Tokkie, en pa van Johan (1). Adres was Kmdt. Senekalstraat 33,Bloemfontein – ons eerste eie huis. ‘n Dodge SE kom staan in my motorhuis.

 Spring nog tien jaar tot in 1982. Toe sit ek in die redakteurstoel by Die Volksblad, hoegenaamd nie meer so skraal soos eers nie, en is Marisa, die jongste, al in Graad Twee. Ons woon in Van Schoorstraat, Bloemfontein,  met wit waaierstertduiwe in die blomryke voortuin. Ons matriekklas van 1957 vier voorwaar al ‘n kwarteeu van die skoolbanke af by ‘n reünie op Potchefstroom.

“Fast forward” (jammer vir al die Engels vandag) tot 1992.  Ek stap as groentjie-bestuurshoof van koerante by my kantoor op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht in, en O’Kulissstraat 11, Welgemoed, met die mooi uitsig op die berge, word die nuwe VanD-adres.

 Halfpad deur die dekade tree ek af, en teen 2002 is ek al ‘n ervare lid van die kieriekommando, soos Pierre le Roux ons noem.   Wandel op die strand op Melkbos, kuier lekker saam met my Probusmaats en hou l-a-a-n-g vakansies in ons eie boshuisie in salige Sabiepark aan die soom van die Sabierivier, digby die Krugerhek.

 Toe 2012. Ditto. Heelwat meer ervare as lid van die kieriekommando, heelwat minder aktief as wandelaar op die strand, maar steeds ewe entoesiasties oor my vriende, oor Sabiepark en die Wildtuin. My sewentiende boek, Spore in die bos, verskyn as e-boek. Hennie en Tokkie is nou al Oupa Hennie en Ouma Tokkie, en hoe lief is ons nie vir ons kleinkinders en die nuwe status nie.

 Maar bloedmin dekades het verloop van die pokkeltjie op Pa Seun se skoot van 1942 tot die Oupa met kleinseuns op die skoot in 2012.  

 “Tempus fugit”, lui die Latynse speuk. Die tyd vlieg.  Of: “Tempus is fugitting like mad”, soos die Engelse omroeper Eric Eagan op ‘n kol kwytgeraak het.   Met rasse skrede.  “By leaps and bounds.”

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page