top of page
  • Uitmelkbos

SPOOR VAN SLINKSHEID

Primitief maar silwerskoon. Die uwe geniet ‘n lafenis in die bos voor

die koms van die stinklywe met die sterk kake.

Soos diewe in die nag het hulle gekom, die twee slinkse skuinsrug-gediertes met hul stink lywe, eers met hul kragtige hiëna-kake die vullisblik (nogal bobbejaan-bestand!) uit sy raamwerk geruk en die inhoud oral in die veld verstrooi, toe luidrugtig in die watergatjie neffens die huis geplons, en daarna, as onwelkome toegif, my vrou, Tokkie, se self-geprakseerde bos-kreepy-krauley aan flarde gekou.

Twee aande tevore het ons met vonkelwyn onder ‘n silwer volmaan idillies onder die bosveldsterre gekuier – eintlik ‘n sogenaamde “bloumaan”, of die tweede volmaan in een kalendermaand, wat net een keer elke twee tot drie jaar gebeur. ‘n Baie spesiale volmaan was dit, want dit was op 31 Desember, Oujaarsaand, wat boonop my en Tokkie se huweliksherdenking is.

Terselfdertyd was dit ons duisendste dag in die bos in die private natuurreservaat Sabiepark aan die Sabierivier, direk langsaan die Kruger-wildtuin – ‘n aand om oor te droom. Stemminge in die bos verander egter vinnig, en daarmee die gemoedstoestand van sy mensebewoners.

Oor die verlies van haar eie kreepy krauley, ‘n regte, egte een vir die bos waar elektrisiteit ontbreek, was Tokkie verslae. Langer as ‘n dekade was dit ‘n staatmaker. ‘n Stuk tuinslang wat in die pakkamer was, is, eenvoudig met draad aan ‘n stok vasgewoel. Tokkie (wat ook ‘n kraan se wasser uit ‘n skoenveter kan tower) blaas eers om voorsorg te tref vir die moontlikheid van ‘n gogga of slang in die tuinslang. Dan suig sy hard om hom “aan te skakel”.

Die kreepy het bekwaam sy werk verrig. Die bodem van ons swembadjie was vinnig pragtig skoon, selfs van die hardnekkige blare, takkies en wurmpies se swart uitskeidings uit die groot maroelaboom. Nou moet ‘n plaasvervanger vervaardig word. Veral om ‘n stuk stok te kry wat presies lank genoeg en dun genoeg is, is ‘n uitdaging. Kierieklappers het dalk in die ou dae bruikbare kieries gelewer, maar vir dié uitsonderlike doel sal ons maar moet rondkyk vir ‘n geskikte daklat op persele waar huise se dakke gedek word.

Hoe ook al, die einde van ‘n era is dit, soos hulle sê. Met komplimente van die hiënas waarvoor die Van Deventers hoeka nie baie lief is nie. Dat hulle vir die wandaad die stoeptrappies gly-gly op is om die kreepy reg voor ons slaapkamertvenster weg te raap, is om sout in die wonde te vryf.

Tot verdere bewoënheid ontdek ons só saam-saam met die kreepy-skade die verlies van ons vuurklippe waarmee ons bosveldvure gestook word. Dié poreuse blokkies wat tussen gebruike in ‘n ou koffieblik in lampolie geweek is, is skynbaar in ‘n onbewaakte oomblik saam met die vorige aand se as weggesmyt. Nog ‘n lang Sabiepark-tradisie daarmee heen.

Ons “duisend dae” was, desondanks, ver van ‘n treurmare. Oor hoe sierlik die bos hom vir dié spesiale feesviering getooi het, kan ‘n mens liries raak. Ek vertel graag môre, oormôre meer oor nog ‘n onvergeetlike kuiertjie in ons stukkie hemel daar aan die skilderagtige Sabierivier.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comentarios


bottom of page