top of page
  • Uitmelkbos

SPIEëLTJIE, SPIEëLTJIE….


Deur hoeveel onderskrifte vir foto’s ek persoonlik in my koerantdae in wrewel ‘n woeste streep getrek het oor een en dieselfde, vervelige rede, weet ek nie eens naastenby nie.

Daardie lot het elkeen te beurt geval wat begin het met: ”Spieeltjie, spieeltjie aan die wand, wie’s die mooiste in die land? ”, of die een of ander variasie daarop. By ‘n foto van mooi meisies, mooi honde, mooi hoenderhane noem maar op, sovele joernaliste het gemeen ‘n oulike onderskrif sou een wees wat met daardie grys-van-die baard spieëltjie-uitdrukking begin.

Hoe oorspronklik en kreatief kan ‘n joernalis nie wees nie – of ‘n koerant/tydskrif? Party “spieeltjie, spieëltjie aan die wand” eenvoudig onstuitbaar voort of dit ‘n baie spesiale persoonlike slimmigheid is wat eksklusief deur hulle uitgedink is. Julle onderrok van lui joernalistiek hang uit, liewe mense!

‘n Ander bekende spieeltjie-uitdrukking (minder geraffineerd) is die vermaning dat jy – as jy nie versigtig is nie – jou gat sonder ‘n spieeltjie sal sien. Die meeste van ons het al seker daardie akrobatiese toertjie reggekry – dikwels sonder veel moeite!

Dit is geen aangename gesig nie.

‘n Oorspronklike variasie op laasgenoemde het ek Saterdag gehoor by die dubbele viering van Van Wyk en Letricia van Niekerk van Melkbos se 44ste troudag en haar 70ste verjaardag by ‘n noenmaal om oor huis toe te skryf (met genoeg KWV se sauvignon blanc vir hierdie dors gas na ‘n week se onthouding).

Chris Mostert van Mosselbaai het by die viering van die twee mylpale by die spog-wynplaas Nitida, die heildronk ingestel. Hy het jare her as student by die Van Niekerks begin werk daar in die Perdeberg-omgewing waar hulle as voorste boere en entrepreneurs vele bakens geplant het, en ken dié twee wellewende mense klaarblyklik soos sy hand.

Hy haal toe die mooi storie op wat Van Wyk vir hom vertel het. Dié het dit op sy beurt by sy pa gehoor. Oorspronklik kom dit glo van ‘n ou oom wat mnr. Van Niekerk senior geken het.

Waarop dit neerkom, is dat ‘n jong man na sy studies met ‘n klomp slim planne op die plaas opdaag om die boerdery van A tot Z te moderniseer. Dit moet uitgekap word, dit moet gebou word, hierdie nuwe implemente is onontbeerlik, ens.

Sy pa het aandagtig geluister. Sy eerste woorde was: “Maar wat sal alles kos, ou seun?”

Sy seun het sy sommetjies gedoen en antwoord dadelik: “So R100 000, pa. ” (Deesdae seker al ‘n paar miljoen!)

Die pa haal daarop ‘n eenrand-munt uit sy sak en gee dit vir sy geleerde seun.

“En dié nou, Pa?”

“ Vat dit, ry na die winkeltjie daar langs die grootpad en koop vir jou ‘n spieëltjie. Dis beter om jou gat vir ‘n rand te sien as vir R100 000!”

Die wysheid van die grysheid darem!

Letricia (wat al die jare die egpaar se minister van finansies was) fluister in my oor sy kan verstaan hoekom sy pa vir Van Wyk hierdie spieëltjiestorie vertel het. Hy was van jongs af baie innoverend en het altyd die waagmoed gehad om nuwe dinge aan te pak. Hy was bv. die eerste boer wat pere in die Perdeberg-area vir die uitvoermark geplant het, terwyl dit n tradisionele tafeldruiwe-gebied was.

Maar Van Wyk het kennelik nooit in so ‘n spieël hoef te kyk nie!

Die mooi toto is Van Wyk en Letricia op hul troudag en haar 26ste verjaardag op 16 Maart 1968. Toe was hulle nog jonk en mooi; nou’s hulle net mooi. Maar jinne, Hennie, nou raak jy self darem bitter voorspelbaar en onoorspronklik!

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page