top of page
  • Uitmelkbos

SPEELGOED-PARADYSIE


Oorlogstyd se Hillman Minx

Johan en Marisa en die geel Tonka op Buffelsbaai se strand

In die 40’s was die Duitse DKW’tjies, sulke koddige afslaankap-houtkarretjies, volop in die strate. In ons motorhuis en in my speelgoedkas het Britse karretjies egter in die oorlogstyd en daarna oorheers. My pa het kort voor sy dood sy groot, swaar Plymouth vir ‘n ligter op brandstof Hillman Minx verruil. Ek had ‘n paar Dinky Toys in my speelgoedkkas – nie minder nie as twee Standard Vanguards met hul skuins kewer-ruggies. Was verknog aan my karretjies.

Tokkie is in 1946 (die jaar voor my buiging in Sub A in Kimberley) gebore toe poppe van harde plastiek die in-ding geword het. Haar pa, Kotie, het vir haar in hul kort lewe saam twee sulke poppe gekoop, wat na aan haar hart was.

Ons eie kinders had o.m. in hul kleuterdae ‘n groot geel Tonka-wipbakvragmotor (Johan) en ‘n kewpiepop (Marisa). Marisa had ook later ‘n kruippop (Baby-that-away), ‘n variasie op die tema van die looppop.

Mense, die hartsgoed is die leste een daar in Simonstad se Speelgoedmuseum in St. Georgestraat (‘n gedeelte van Hoofstraat/Main Road). Dit was ‘n verrukking om tussen die vol rakke deur te dwaal en die een na die ander bekende speelding uit die verre verlede raak te loop.

Die miniatuur-loodmotortjies, merkwaardig sekuur afgewerk vir hul tyd, is my gunsteling: Dinkys en Corgis. Ek was ‘n Dinkyman. My eie Dinkys het ek vinnig geïdentifiseer, en die man in beheer van die museum gevra om vir my die glaskas oop te sluit dat ek ‘n Vanguard in my hande kan hou – meer as sestig jaar later. ‘n Entjie aan was ‘n Hornby-treintjie wat om en om op spoortjies kon loop, nes myne.

As ek geweet het, het ek vergeet dat Dinky en Hornby albei Meccanoprodukte was. ‘n Kleinerige rooi Mecannostel was ook in my kas. My pa, Seun, is te gou dood om my te help met bousels. My en my ma se hande was maar dom. Ek is nie in die wieg gelê om die ingenieursbedryf te verryk nie.

Die “vetdiere” (so het ons die lood-beeste, -perde en –skape genoem waarmee ons op ons “plasies”in ons Kimberleyse agterplase, omhein met sink, ge-“boer” het) het my herinner aan ‘n middag toe ‘n maatjie by John Orr nie die versoeking kon weerstaan nie om enkele mooi “vetdiere” onregmatig uit ‘n uitstalling te verwyder. Ons het gehardloop dat ons asems fluit – huis toe in Diagonalstraat, in die geloof dat die polisie kort op ons hakke is.

Ander herinneringe het deur my kop galop:

  1. My pa se laaste briefie, ‘n week voor sy dood in Junie 1946, dat my ma, “liefste Baby”, tog drie pinte olie vir die Minx (‘n ligbloue met swart modderskerms) moet kry.

  2. My Oom Danie se regop Austin (A40) en latere vaartbelynde Hudson Hornet wat hy met ‘n hamer in Beaconsfield, Kimberley, bygekom het toe die dakstoffering lostorring en op hom instort. Die Austin en die Hudson is albei daar in Dinky-/Corgiformaat – ook die Studebaker Hawk van 1947/48 waarmee ‘n vergeefse vryer by my ma opgedaag het. En my en Tokkie se tweede motor, ‘n Fiat 125.

  3. Johan en Marisa met die Tonka op Buffelsbaai se strand. Johan het vir klein Migael, kort nadat hy by hulle in die huis gekom het, ‘n groot geel vragmotor gekoop om op Buffelsbaai se strand mee te speel. Migael was nie lus nie. Hoe kon hy geweet het van pappie Johan se Tonka-geskiedenis?

  4. Marisa se kewpie (genoem na Kupido) wat ons na ons jaar in Amerika in 76/77 met ‘n lelike bruin brandmerk teen die kop aantref. Die pop was te naby aan ‘n gloeilampie in die stoorkamer geberg. Amper was daar ‘n yslike brandmoles terwyl ons salig kerjakker.

  5. “Baby-that-away” – die oulikste ding. As jy haar opwen en die opdrag gee: “Baby that a way”, dan kruip sy in daardie koers vir ‘n vale.

Dankie, Simonstad se speelgoed-paradysie. Oupa Hennie kom weer. Die kleinkinders moet dan saam – hoop net als is nie vir sulke moderne kindertjies hopeloos ouderwets nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page