As jy in die donker knipoog, weet net jy wat jy doen. Hierdie advies word gewoonlik aan die adres gerig van mense wat traag (te suinig) is om te adverteer. My probleem is vandag ietwat anders: dit lê by die blikskottels wat wel adverteer, maar dan nie kan lewer nie.
Hulle “knipoog” in die lig, maar as die klant op daardie “knipoog” reageer, begin hulle stamel, of krabbel selfs terug. Die “knipogers” self is dan die mense wat nie weet wat hulle doen nie.
Mense, ek praat van al daardie “spesjils” wat in volbladadvertensies, invoegsels in koerante, advertensiepamflette, op TV en waar nie oral nie groot en ondubbelsinnig geadverteer word – spaar R10, spaar R20, spaar R30 …..
Jy spring opgewonde in jou vuurwa, wikkel haastig winkel toe (soms kilometers der klometers) en dan weet hulle van geen sout of water nie. Jou moeite, tyd, koste en teleurgestelde verwagtinge maak op niemand enige indruk nie. Moenie eers probeer kwaad word nie. Dit help nog minder.
Dis te sê as jy gelukkig genoeg is om iemand se aandag te trek. Want dikwels staan jy maar soos kiepie daar tussen die rakke rond, advertensie in die hand, terwyl winkelassistente en rakpakkers se eindelose selfoongesprekke sorgeloos voortsleep. Soms word die gesprek darem vir ‘n stonde onderbreek om die verwarde klant met ‘n krom vinger of ‘n slap arm na ‘n ander rak weg te wuif.
Pas is ‘n bepaalde fabrikaat babadoek teen ‘n winskoopprys as ‘n “spesjil” vir vyf dae aangebied. Op dag nommer een het ons kinders berge begin versit om van daardie doeke in die hande te kry vir hul amper driejarige wat nogal n roes op doeke is. Op dag vyf het die voorraad nog nêrens opgedaag nie – in elk geval nie by een van die vier of vyf takke waar aangeklop is nie. Een bestuurder was, tot sy ewige eer, so skaam oor die vrot diens dat hy ander, duurder doeke teen dieselfde prys aangebied het.
Maak jou maar daarvoor klaar: dikwels word te kenne gegee dat jy die aap is wat teen jou oogvelle vaskyk – maar, verrassing, verrassing, dan skitter die geadverteerde produk inderdaad in sy afwesigheid
Gewoonlik is die verskoning dan ‘n botte: “Jammer, ons het dit nog nie ingekry nie.” Dring jy dan daarop aan om te weet waarom ‘n onbeskikbare produk geadverteer word, word eenvoudig skouers opgetrek of die blaam op “hoofkantoor” gewerp omdat dié vir die advertensies verantwoordelik is.
Weet die linkerhand dan nie wat die regterhand doen nie? Ek vra maar net.
Die vrou in ons huis, het op die spoor van ‘n aanloklike hoender-aanbod ‘n keer dieselfde traak-my-nie-agtigheid teengekom. Sy laat haar nie maklik afskud nie. Ten einde laaste het sy iemand oorreed om in die pakkamer te gaan soek. Eureka – daar word die berg “spesjil”-hoenders toe op ‘n onverwagte plek ontdek.
Hoe lank dit daar sou gestaan het, as mev. T. nie so vasgeskop het nie, is enigiemand se raaiskoot.
‘n Buitengewoon eerlike jong dametjie het een dag die kat uit die mou gelaat oor ‘n praktyk wat dalk meermale voorkom. Ja-nee, die goeters in die advertensie is wel “agter in die stoor”, maar kom vanaand eers rakke toe.”Ons vat ‘stock’ en as ons dit nou uitpak, is daar meer goed om te tel!”
Newwermaaind die arme klant wat aan ‘n lyntjie (en vir die gek) gehou word!
‘n Nuwe gier wat van Amerika oorgewaai het, is om omgekrapte klante met ‘n sogenaamde “rain check” te probeer paai. Ekskuus dat ek so brutaal moet wees, maar daardie “rain checks” beteken in my ervaring maar bokkerol. Dis nie die papier werd waarop dit gedruk is nie.
Pick’ n Pay, Spar, Checkers, Shoprite, die lot, ek praat met almal van julle. Maak julle ore oop, menere, en doen tog iets aan hierdie enorme frustrasie van jul mishandelde klante. Roer julle! Kry jul blerrie “spesjils” op jul blerrie rakke. O ja, en vat daardie “rain checks” en steek dit …. aan die brand!
Komentáře