top of page
Uitmelkbos

SOP MET SKOP EN SUSHI MET POTE







KOM ons gesels verder oor koddige kos na aanleiding van die stukkie oor die “afskeepkos” (be-roerde eier?) in Spanje toe die bul die keer die stiergeveg gewen het (blog hieronder). Vir my spel “koddige kos” die Ooste, reg of verkeerd.


Met die Desember-loomheid (luiheid?) wat so stadig oor onse mensekinders begin spoel, gaan ek onbeskroomd die weg van die minste weerstand inslaan. Ekskuus dat ek sommer vir vandag se joernaal ‘n stukkie uit my humor-reisboek van 1998, “Oos, Wes- Reismoles!” aanhaal. Hy’s in elk geval lankal uit druk; moet dus nie vrees ek probeer boeke smous om vir my Kersvakansie te betaal nie!


Dit kom uit die hoofstuk met die titel “Reis en vleis”. Hier volg dit:


Van Oosterlinge het iemand gesê dat hulle enigiets eet wat bek of pote het, buiten miskien die tafel en die stoele. As dit ‘n oordrywing is, is dit nie ‘n yslike een nie.


In die agterstrate van Chinese stede neem hulle jou na hokke waar jy jou eie slang of lewende hondjie vir aandete kan uitkies. Die Chinese glo albei is fynkos, wat, as bonus, ook ‘n seksopkikker is (Viagra in onverwerkte vorm – HvD!)


In Japan word n hartlike “itadakimass” (smaaklike ete) dikwels gevolg deur n waarskuwing dat die “o-naba” (‘n geheimsinnige maar heel lekker visgereg) jou dalk kan vergiftig. Terwyl jy nog steier van die skok, kom ‘n tweede onheilspellende mededeling. Moenie groot happe vat van die “o-mochi” ( ‘n taaierige ryskoek) nie; elke jaar sterf ‘n klomp mense wat daaraan verstik het.


In Australië was tot onlangs rou kreef en garnale ( o grillerigheid op note, die sushi loop op pote, HvD!) op sekere spyskaarte. Dit is op wreedheidsgronde verbied.


In Abuja, Nigerië, is weer vasgestel dat aasvoëls op groot skaal doodgemaak, geslag, verpak en as hoender verkoop word op een van die groot markte in die stad Vermoedelik het sommige restaurante aasvoëlvleis in sop voortgesit.


Grieselige ervarings soos die skep by die besoeker ‘n knaende suspisie oor enigiets wat in sommige gewestes uit die kombuis kom.


Voor ‘n besoek aan een van Taipei se talle straatmarkte wat saans soos plakkerskampe verrys, was ek maar wantrouig. Ek sou die kat (of is dit in hierdie geval die hond?) goed uit die boom kyk voordat ek iets te ete aanskaf.


Uiteindelik gewaar ek ‘n gereg wat lyk of dit met ‘n Vrystaatse spysverteringstelsel sou akkordeer: ‘n hoendersosatie.


No,” sê ‘n hulpvaardige gidsie, “you won’t like.”


“Hoekom nie? Ons eet ook hoender; trouens, ek hou nogal daarvan.”


“No,” hou die gids vol. “ Not light for you.”


Na ‘n hele diskoers, uiteindelik die verklaring vir sy teenkanting: “It’s chicken’s behinds.”


So ingeryg aan ‘n stokkie, verbeel jou – en dit deur gaatjies wat gerieflik deur die natuur voorsien is! (Kry ek nou skielik ‘n hol kol op my maag, HvD!)


(Word vervolg)



1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page