Gepraat van ou meisies: in my versieboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog is Geroof (Tarlehoet, 2003) het ek vantevore die onderwerp aangeroer, met ‘n goeie skoot vrugbare verbeelding daarby.
Verbeelding of nie verbeelding nie, die slotsom is dieselfde as in die blog hierbo. Daardie buiging na my vrou (wat van Bultfontein kom) het dus in minstens die laaste sewe jaar konstant dieselfde gebly.
Hier’s die bewys:
Herinneringe
O, ek onthou die rats gimnassie,
pronknooi van die dorp Makwassie
wat ‘n aand van louter passie
daar op die klapperhaar-matrassie!
Toe kom ‘n nooi van Cullinan,
‘n skitter-diamant soos min,
en ook ‘n stukkie Welkom-goud –
‘n regte skat en heerlik stout!
Die orrelis van Berg-en-Dal
soos sy kon terg, sy maak jou mal;
uit Hertzogville, bedees en stil,
kom een met hartstog – en ‘n wil!
Die strenge een van Botrivier,
party dag sy’s bra bot en suur,
maar, boeta, dit was puur plesier
soos sy kon toor op haar klavier!
‘n Bondel energie uit Vryheid
had altyd vir ‘n vrytjie ty-heid;
vergeet ook nie daai turbo-outjie –
Bikininooi van Amanzimtoti!
Maar my nooi van Bultfontein,
vir haar het ek nou goed getryn
(of sy vir my, ek sal nie stry)
dié dat ek nou die Heer kan dank
vir lewenslank se samesyn!
Comments