top of page
  • Uitmelkbos

SONORE STEM EN HONENDE HUMOR

Soos vele ander egpare was John en Tini Vorster in geaardheid glad nie karperde nie. Tini (oor wie ek ‘n paar dae gelede ‘n blog geplaas het) had die sagte hart van ‘n maatskaplike werkster. John was die mededingende regsgeleerde, altyd oorgehaal om ‘n opponent kliphard aan te vat. Die begaafdse redenaar was geseënd met ‘n ingebore spitsvondigheid wat vernietigend kon wees.

As John Vorster die politikus met die sonore stem en vlymskerpe kwinkslae eers met sy een voet op sy groen leerbank in die volksraad gaan staan het en die opposisie met sy honende humor begin opkeil, was van sy kant van die raad galmende lagbuie van genot.

Ek was die aand in die Bloemfonteinse stadsaal toe die premier onder dawerende toejuiging aankondig Suid-Afrika sal nie die gekleurde Basil D’Oliveira as lid van ‘n MCC-krieketspan aanvaar nie. Tot vandag glo ek hy kon met presies die teenoorgestelde standpunt dieselfde toejuiging uitgelok het. Hy het oor die statuur beskik om mense om die pinkie te draai en die redenaarskuns om hulle in enige rigting mee te voer. Dalk het hy nie sy mag in daardie opsig nie ten volle besef nie.

Die gedugte Vorster het my vroeg in my loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad laat stamel. Dit was by Philpstown se eeufees of iets waar hy – toe nog minister van justisie – die spreker was. Ek wou asseblief ‘n afskrif van sy toespraak hê.

Hy het my met onbehae deur ruie wenkbroue betrag. “Vriend,” het hy afgemete, sonder ‘n sweem van ‘n glimlag geantwoord: “As ek afskrifte van toesprake begin saamdra, daardie dag tree ek uit die politiek.” Ek het gou geleer ‘n John Vorster-toespraak bestaan uit ‘n paar kriptiese notas agter op ‘n pakkie Rembrandt ongekurk 30.

Kort nadat hy HF Verwoerd in 1966 opgevolg het, het hy Koffiefontein besoek. Dit het ‘n draai ingesluit by die Interneringskamp waar hy in die Tweede Wereldoorlog agter doringdraad was. Ek sou nie weer om ‘n afskrif van ‘n toespraak aanklop nie!

Die besoek aan die Interneringskamp het wel vir een van my gunstelingfoto’s uit my vroeë loopbaan gesorg. Daardie skraal swartkopmannetjie met die dikraambril en die notaboek links van mnr. Vorster, dis ek!

Mettertyd het ek in die jare 70 by die nuwe dagblad Beeld kennis gemaak met die nogal warm stoel van die nagredakteur – die man wat die volgende dag alles moet kan verduidelik. Een van die aande wat ek nie lig sal vergeet nie was nadat die premier op ‘n jagtog in die private Sabie-Sand-reservaat ‘n leeu geskiet het.

Die aand nadat die storie (plus kleurfoto) op die voorblad verskyn het, het die uwe diens gedoen. Die eerste uitgawe was afgehandel. Ek het net behaaglik teruggeleun. Skielik lui die telefoon. Die fors stem kondig afgemete aan hy wil met die redakteur praat. “Goeienaand, mnr. Vorster – praat maar, ek is die nagredakteur.”

Verslaggewers wat ooggetuies was, het later vertel ek het ligrooi geword, en amper versteend op aandag geruk. Die premier was woedend. In die gewraakte onderskrif het gestaan Vorster het die leeu by Skukuza platgetrek, dus in die nasionale Krugerwildtuin, wat nie die geval was nie. Na verduidelikings en verskonings wou hy nie juis luister nie. Wat, wou hy weet, moet die wêreld van Suid-Afrika dink as die pers sy premiers sulke onbesonne dinge laat aanvang!

Impertinente persfotograwe is ook deur die leier met die stugge bloedhondgesig laat bontstaan. Pogings om hom vir die kamera te laat glimlag, het vir twee wat ek ken, glad nie voorspoedig verloop nie. “Maar ek glimlag dan klaar,” het hy een getroef. “As jy tande wil sien, moet jy Jimmy Carter gaan afneem,” het hy nommer twee kortgevat.

‘n Keer dat hy wel breed vir ‘n fotograaf geglimlag het was op ‘n foto op Huisgenoot se voorblad van hom in sy baaikostuum saam met sy kleinkinders op sy geliefde vakansieplek Oubos. “Oupa Nam-Nam” – so is hy by die foto genoem – was die toonbeeld van ‘n liefdevolle oupa.

John Vorster se latere presidentskap was kortstondig en misplaas – ‘n kunsmatige manier om sy politieke loopbaan te probeer verleng nadat hy kort tevore deur sy kollegas versoek is om weens swak gesondheid die tuig as premier neer te lệ. Al wat dit hom in die sak gebring het, is dat hy gedwing is om in die openbaar die verantwoordelikheid op hom te neem vir die “katnes” van die Inligtingskandaal wat deur regter Rudolph Erasmus finaal oopgekrap is. Dit was treurig dat die formidabele man se loopbaan so op ‘n laagtepunt moes eindig.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page