top of page
  • Uitmelkbos

SONDER ‘N DRAAD!


Flaters en Kraters (links) en Nadine Gordimer in 1990.

‘n Hupse ouma kap dit uit in ‘n energieke salsa met na bewering haar kleinseun in een van daardie internet-goeters wat van tyd tot tyd die ronde doen. Na bewering is dit die nimlike Ginger Rogers wat in die ou dae saam met Fred Astaire die wêreld aan die brand gedans het. Die danseres is 92, word die kykers meegedeel.

Iemand ontdek egter die ware Ginger Fladdervoetjies is al in ’95 of daar rond oorlede. Dis wel ‘n gryse ouma in die polsende dansroetine, maar dis ‘n Britse model wat nou in Brasilië woon – of so iets. En sy is “net” 72.

As iemand van ‘n gejokte “92” nog die salsa kan dans, kan iemand van ‘n ware 88 seker nog in Playboy verskyn! So dag ek by myselwers toe ek Saterdag in By Karina Zczurek (mev. André P. Brink) se storie oor Suid-Afrika se “onbekende” Nobel-pryswenner Nadine Gordimer lees.

Nou nie Nadine in lewende lywe nie, maar wel een van haar stories, “A Journey”, is in die plaaslike Oktober-uitgawe van Playboy herdruk, lees ons – iets waarmee die gedugte me. Gordimer “geen probleem” het nie, want Playboy is gelukkig nie “rassisties” nie.

Dit is natuurlik nie die eerste kortverhaal uit haar bekroonde pen wat nog in Playboy opgeduik het nie. Me. Zczurek sal dit nou nie weet nie, want in die jare ’90 was sy dalk nog net ‘n glinster in pappa Zczurek se oog, maar dieselfde eer het me. Gordimer ook al in daardie vergange dekade te beurt geval.

‘n Kortverhaal van haar was in die eerste uiitgawe van die destydse (abortiewe) SA Playboy, en iemand het daaroor ‘n brief in die Weekly Mail en Gaurdian geskryf. Kort daarna kry die WM ‘n gedenkwaardige brief van M. Mokoena van Jeppe – so gedenkwaardig dat ek dit in my boekie oor onnutsighede uit die joernalistiek, Flaters en Kraters, opgeneem het.

“Please forward me a copy of the Playboy magazine as mentioned in last week’s letter page – the one in which Nadine Gordimer, who is my favourite author, is appearing naked with Wally Serote and others. I am a struggling writer and have been to many meetings like those run by the Congress of SA Writers in which she has given help; I would very much like to have these pictures of her as an inspiration of my work.”

Onthou, me. Gordimer, wat klaarblyklik nou nog ‘n aansienlike vrou is, was toe 20 jaar jonger!

Ook in Flaters en Kraters is ‘n storie oor Hustler, “die arm man se Playboy”, opgeteken wat dalk nou nog ‘n glimlaggie kan uitlok.

Dit het uitgelek dat ‘n aantal vroulike TV-nuuslesersvan die SABC Hustler wou hof toe sleep omdat hulle in hul eer aangetas gevoel het. Hustler het ‘n taamlike prys aangebied as hulle voor sy kameras hul kleertjies sou afstroop.

Een vroulike nuusleser wou om ‘n ander rede eis – sy het nie ‘n aanbod van Hustler ontvang nie!

Iewers in hierdie stories skuil moontlik ‘n goue draad – as draad ‘n goeie word is oor tydskrifte waarin poppies sonder ‘n draad hul dinge doen! – maar ek is nie seker wat dit is nie; dus besmoontlik is my storie ook maar sonder ‘n draad! Jammer!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page