My blog-argief was nog nooit nuttiger nie as toe Elna Smit, voorsitter van Melkbos-gemeente se Silwerkragvereniging, my Woensdagmiddag hande in die hare kontak.
Weens Eskom-aktiwiteite kan die orkes wat sou musiek maak, nie meer Donderdagoggend hul klankstelsel koppel nie. Kan ek asseblief kom help red? Wel, ek kan nie musiek maak of sing nie (wens ek kon), maar ek voel dit my ridderlike plig en het darem oor die 900 blogs in my argief. Kan seker gou ‘n paar storietjies opdiep.
‘n Storie wat Tokkie dadelik uit die kombuis aanbeveel, is in my blog van 23 Januarie 2013, Boudjies in die bos. Dis die storie van ‘n dame (?) se penarie op die S4 in die Krugerwildtuin toe ons haar met haar G-string op haar enkels betrap. Ek is dadelik entoesiasties. Ek en Elna besluit saam op die tema: DIE NAAKTE WAARHEID. Dan kan ek by die boudjiestorie ook enkele ander anekdotes oor ongemaklike oomblikke sonder klere vir dese en gene aanhaak – die uwe helaas ingesluit.
Van die padstorie spring ek na twee badstories. Een keer het die Buurtwag uit pligsgevoel sy intense lig aanhoudend op my en Tokkie, weerloos kaal, in ons hoekbad laat skyn (16/2/2012) . ‘n Pragtige jong besoekertjie is weer deur Ceres se aardbewing uit haar gasheer se bad gejaag met net ‘n waslappie as enigste bedekking (Uit Praat-Praat in Tamatiestraat, maar ook iewers in ‘n blog vermeld).
Daarna kaalbas-kirpatse in die swembad. Ek kan die Silwerkraggers inlig oor ‘n gesiene egpaar se nagtelike avontuur in ‘n onderdak-swembad in Zell-am-see, Oostenryk (Oos, Wes – Reismoles en ook iewers in ‘n blog). Ook oor ‘n vriendin, Alet van Dyk, se verleentheid op Aliwal-Noord. Toe sy vroeg in die huwelikslewe met ‘n Indiaanse kreet sonder ‘n draad by die deur uitstorm vir ‘n roetinekuiertjie in die koel water, sit haar man en ‘n kuiergas op die stoep grootoog die petalje en aanstaar (27 November 2008).
Langs die swembad kan dinge ook erg skeef loop, soos die bruid wat op die wittebroodsdae van haar tweede huwelik in Quebec, Kanada die bostukkie van haar Playboy-bikini al huppelende op ‘n trampolien verloor (17 April 2008).
Vir moleste by die see gaps ek uit Sakkie Perold se Glimlag of Grinnik die storie oor die ou wat by Waenhuiskrans sy broek in die branders verloor, en toe moes ontdek die reddende jêmblik is ‘n blikkie sonder boom (12 Novemer 2012).
Toe’s ‘n halfuur verby – nog net tyd vir twee kort storietjies wat oor ooms se vindingryke planne vir ‘n bietjie loerplesier. Een het meisies uit ‘n plaasdam laat spaander met ‘n witleuentjie oor ‘n “krokodil”. Die ander het sy mooi buurvrou haar handdoek laat afwerp vir die R500 wat hy hy buitendien vir hulle skuld (27 Februarie 2008).
‘n Vraag kan wees of dit nie perdalks ‘n skurwerige onderwerp vir ‘n byeenkoms van ‘n gemeentes se oues van dae is nie? Verneem graag as iemand so dink, maar naaktheid is mos darem van die sondeval af ‘n Bybelse onderwerp en ‘n aanvaarde (?) tema vir grapjastery. Tog ‘n bekende storie daardie ene van die Engelse predikant wat sy preek oor die sondeval onderaan bladsy twee skielik onderbeek. “And Adam said to Eve ….,” lees hy. Blaai om, blaai terug en blaai weer om. “And Adam said to Eve… “Toe bra moedeloos: “There seems to be a leaf missing!”
Comentarios