top of page
  • Uitmelkbos

Sonder geesdrif

Crito steur hom nie aan rubrieke nie, maar wanneer rubriekskrywers blitsresensies inkorporeer in hul skrywes, kan mens dit nie ignoreer nie.

Daarom: Wat ’n eienaardige stuk is dit wat Lina Spies op Boeke24 gepleeg het! “Digbundels verskyn op die lopende band.”

Wil dit resensie wees, of is dit gewoon mymering? Crito vermoed dis iets heel anders: Hovaardige beterweterigheid, met ’n onderrok wat uitpeul.

O, hoe looi sy nie vir Marlene van Niekerk en Bernard Odendaal nie! Carel Antonissen se bundel Vuurvas is die kapstok vir eersgenoemde, Odendaal se reaksie op Tom Gouws se bespreking van Ruan Fourie se ’n Ope brief aan Dorian Gray die aanknopingspunt vir laasgenoemde.

Alles ingetroffel in ’n lang meditasie oor die ouderdom waarop digters publiseer, om uiteindelik uit te kom by die lamentasie dat die Afrikaanse letterkunde die mentorskap van D.J. Opperman seer mis.

Die hele argument is kwalik nuut of vars. Het Lina Spies nie al dikwels geween op die tema van  D.J. Opperman nie? Dit lyk vir Crito al te baie of die gryse eminensie haar eie wyshede van die verlede vergeet het: “Moet nooit oor iets praat wat jy nie goed vind en aldus geen waardering voor het nie. Sonder entoesiasme bereik ’n mens geen gehoor nie.” (Sien Elize Botha – Gespreksgenoot, pagina 503.)

Crito het vrede daarmee as Spies vinger wil wys na Van Niekerk en Odendaal. Net sy sal weet hoekom sy so graag vir Van Niekerk oor die vingers wil tik, en vir Odendaal ’n preek wil afsteek.

Maar die opmerkings wat sy maak oor die gehalte van Antonissen se gedigte, kan ’n mens nie werklik ernstig oorweeg nie. Dit is klappe in die verbygaan, ’n verdoeming sonder uitvoerige bespreking. Dit laat onmiddelik ’n negatiewe indruk by mense wat nog nie die bundel gelees het en nie sal besef dat dit maar net Lina Spies is wat besig is om Lina Spies te wees nie.

Jo Prins, redakteur van Boeke24, is dit aan Antonissen verskuldig dat Vuurvas ’n behoorlike resensie kry.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page