top of page
Uitmelkbos

Soms suutjies-poep, soms nie

Rooi Jan Alleman, deur Francois Loots. Resensie: Harry Kalmer. (Rapport Boeke) ‘n Fassinerende bespreking, omdat Kalmer self so ‘n omvattende kennis van Bram Fischer se lewensverhaal het. Daarom kan hy in sy openingsparagraaf wegval met sy opsommende evaluering. Die res is argumentering en beskrywing, die boublokke van die resensent se kritiese inkyk. Dit is jammer dat Kalmer nie die groter literêre verwysing raaksien nie (ek was baie verbaas oor dié leemte in die resensie), maar aan die ander kant lewer hy ‘n baie goeie betoog oor hoekom die boek die moeite werd is om op te neem en te lees.

Asterix en die goue sekel en Asterix die Galliër, deur Goscinny en Uderzo. Resensie:  Marlize Leyden. (Rapport Boeke) Ek het nog nie vantevore met Larlize Leyden as resensent kennis gemaak nie. Haar skrywe oor die nuwe Asterix-boeke in Afrikaans is nie baie belowend nie – dit lees soos daardie gedroggies wat so twintig jaar gelede in die koerante as “promosie-artikels” aangebied is. Sy kan waak teen slordige formulering: Om Adoons-hulle en Louis , die laeveldleeu in dieselfde sin te tipeer as “komiese prenteverhale in koerante en tydskrifte” is om groot onkunde ten toon te stel oor die sosiaal-politieke rol van Adoons-hulle in ‘n spesifieke tydsgewrig enersyds, en die rol van politieke en gender-humor in ‘n heeltemal ander tydsgewrig in Louis, die laeveldleeu andersyds. NB-Uitgewers het nie Kuifie of Asterix in Afrikaans vertaal nie – dis deur spesifieke persone in opdrag van een van hul drukname gedoen. Dis maklik om sommer oor sulke irritasies te lees, maar mens verwag groter juistheid van resensente.

Deur ruite van die reis, deur Melanie Grobler. Resensie: Zandra Bezuidenhout. (Rapport Boeke) Melanie Grobler is een van die mees begaafde digterstemme wat die afgelope dekade of wat opgeklink het. Haar ontwikkeling het enkele jare gelede ‘n terugslag gekry toe plagiaat in ‘n bundel van haar aangetoon is, en sy daarvoor verantwoordelikheid aanvaar het. So iets raak die beeld wat ‘n digter by die lesende publiek het. Tog het sy die trauma van haar afgeskud en weer begin dig. Daarvoor verdien sy ons bewondering. Zandra Bezuidenhout was sekerlik van hierdie agtergrond bewus toe sy die opdrag aanvaar het om Deur ruite van die reis te resenseer. Haar aanpak van die resensie, die respek wat sy aan die digter betoon, en die waardering wat sy het vir die waardigheid waarmee Grobler haar digtersloopbaan weer op koers kry, getuig vir my van ‘n merkwaardige begrip vir alles wat die rol van die resensent behels en verg. Mens moet veral jou hoed lig vir manier waarop sy dit ter sprake bring dat Grobler weer in ‘n enkele geval versuim het om ‘n bron te erken waar sy haar vertaling van enkele reëls uit ‘n Engelse gedig van Dahlia Ravikovitch in ‘n gedig opgeneem het. ‘n Mens kan aanneem dat die uitgewer hieroor ‘n verklaring sal uitreik, maar danksy Zandra Bezuidenhout se manier van dinge doen is dit heelwat makliker vir die uitgewer en digter gemaak.

Hoopvol, deur Derick van der Walt. Resensie: Dineke Volschenk. (Rapport Boeke) In haar resensie raak Dineke Volschenk die spoor taamlik byster. Sy resenseer ‘n boek nie in terme van sy meriete nie, maar op grond van die probleme wat sy ondervind om dit behoorlik te plaas. Die uitgewer het dit as jeugboek beskou. Sy voel dit mik weer na ouer lesers. Miskien moet sy raad aanvaar van iemand met jare se ondervinding in die biblioteekwese: Uitgewers weet nie altyd die beste nie. Konsentreer op die boek. Vergeet van die teikenmark. En moenie koerantlesers onderwerp aan ‘n verskoning vir ‘n resensie nie.

Vol draadwerk, deur Marius Crous. Resensie: Andries Visagie. (Rapport Boeke) Dít is hoe ‘n digbundel geresenseer moet word. Skerp, baie krities, en wanneer hy lof toeswaai, weet jy watter gedigte ‘n kans staan om in die volgende Groot Verseboek ‘n staanplek te kry. Die afwesigheid van sin, deur Susan Smith. Resensie: Johann Lodewyk Marais (Rapport Boeke) Dit is ‘n plesier om ‘n resensie van ‘n digbundel te lees en te ervaar hoe die resensent die bundel voor jou oopvou, sodat jy later presies die konteks en impikasies snap. Nou moet jy nog net die bundel gaan lees ook. Maar dan kom jy af op hierdie sin: “Kritiek sou kon wees dat van die gedigte soms n tematiese herhalende indruk maak.” Dit is só ‘n suutjies-poep opmerking om te maak! Wat – sou kritiek ook dalk nie kon wees nie ….? Of: Soms maak hulle nie ‘n tematies herhalende indruk nie? As ‘n resensent iets wil sê, laat hom dit reguit sê.

Paddas en paddajolyt, deur Vincent Carruthers en Louis du Preez. Resensie: Neels Jackson. (Boeke24) Eendag moet ‘n joernalistiek-student nog navorsing doen oor die ruimte wat Afrikaanse koerante deur die jare aan afgestaan het aan digbundels versus ruimte aan boeke oor die natuurwetenskappe. Digbundels maak omtrent skoonskip – maar die dag wanneer iemand ‘n boek soos dié een oor plaaslike paddas bespreek, word dit sonder omhaal van woorde gedoen, in baie goed ook. Neels Jackson skryf nie lank nie, maar die manier waarop sy agting en geesdrif deurslaan het my onmiddelik laat besluit dat ek hierdie boek móét hê.

Roberts-voëlgids. Resensie: Charles Smith. (Boeke24) Wat vir Neels Jackson hierbo gaan, geld ook vir Charles Smith. Plus: Die beste inleidingsparagraaf wat ek in jare in ‘n resensie oor ‘n natuurwetenskaplike boek gelees het: “Elke natuurkind moet sy Roberts-voëlgids hê. ’n Goeie ma sal voor haar dogter besluit om te trou, die aanstaande skoonseun vra om sy Roberts te wys. Finish en klaar.”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page