top of page
  • Uitmelkbos

SOMMER SKOON SIMPEL


Verspot, deel die woordeboek ons mee, is snaaks, gek, laf, belaglik.  Een voorbeeld wat genoem word is “verspotte meisietjies”.  Ietwat chauvinisties dalk?  Nietemin, oor verspot wees, is ek aan die dink gesit deur die kakkerlak-fees in die vrolike Florida, Amerikaanse deelstaat aan die suidpunt van die VSA, wat o.m. Disneyworld en ‘n reeks ander pretplekke huisves.  

 ‘n Ou het mos by die okkasie sterwend ineengestort nadat hy kakkerlakke en wurms by die handevol ingeprop het in die een of ander oorvreetkompetisie.  Eerste prys: ‘n luislang (om wat mee te maak?)   Erik Holm, wat van goggas veel meer weet as die gewone sterfling, vertel vir ons insekte is goeie kos, beter as rooivleis. Met alle respek, al was die eerste prys twee luislange sou ek daardie voedingswaarde liefs ontbeer solank my liggaam dit daarsonder kan uithou.  

 Om ‘n vark van ‘n mens te maak met kos en drank, is natuurlik ‘n swakheidjie van Homo Sapiens. Het al gehoor van kompetisies vir wie die meeste hamburgers in ‘n halfuur kan wegsit, of die meeste pizzas of die meeste bier.  Dan gaan dit woes. Dit sluk en hik en sluk en hik.  Was in my Tukkiedae maar sulke wedstryde. Vir die meeste-bier-in-‘n-uur-wedstryd had ek ‘n parate span. Ons het elke Vrydagaand by Ta Bella (die Hotel Belvedere) ernstig gaan oefen. Ons naam was die Boozeklub, Kollege se Boozeklub, en as ernstig gedrink moes word, kon jy maar op lede van die entoesiastiese klub se nommer druk!

 Trouens, ons het ‘n keer – in die afwesigheid van ‘n paar kratte bier – nogal ruim weggelê aan metielalkohol (etiel?) wat ‘n ondernemende klublid in die chemie-laboratorium geskaai het. Darem met Coke verdun. Daardie verspottigheid het in sulke lafhede gekulmineer soos dat die uwe met sy nuwe “suedes” onder die stort gaan staan het, en dat ‘n vriend – eerbiedwaardige pilaar van sy gemeenskap –  kaalbas tussen die swartpak- en aandrokbrigade by die Aula se openingsaand rondgehôl het met die kreet (wat, agterna gesien, nogal sin maak): “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

  Ai, gaudeamus igitur …. Studente kan verspotter wees as “verspotte meisietjies”.  Welaangename oomblikke duik in my herinneringe op soos die aand, juis ná ‘n snoekeruitstappie na Tant Bella, dat ons in Kerkstraat resies gehardloop het, en die keer toe Kollege se HK by ‘n HK-aflos in ons japonne opgedaag het. Toe ons die afstroop, dra ons elkeen ‘n XXX-“bloomer”. Dit het darem heelwat meer verbloem as ‘n nuwerwetse “G-string”, vermoed ek (hoe sal die ou man nou weet!), maar nogtans ‘n baie private soort kledingstuk.

 Vele van die stories het ek al in oomblikke van die gryse behoefte aan skuldbelydenis oorvertel. Ons kom trek maar hier ‘n streep.

 Of by die kakkerlak-affêre foto’s geneem is, weet ek nie. Glo met die nuwe tegnologie en so sou die verrigtinge seker minstens ‘n paar grieselrige selfoonfoto’s opgelewer het. Maar die insident (meer aksident as insident in die lig van een deelnemer se onsalige oorlye) het my tog na my foto-albums gedwing. Watter sou die verspotste foto van myself wees wat in daardie duisende blaaie agter deurskynende sellofaan vir ‘n waarskynlik onbelangstellende nageslag bewaar word?  Moeilike keuse. ‘n Kandidaat is die ene hierbo; bedek met lakenlinne, lourierkransie op die kop en yslike “goue” houer vol rooiwyn.  Langs my is Tokkie (heel fraai in haar lakengewaad, meen ek), en ander persmense eenderster gestewel en gespoor (ontstewel en ontspoor?).

 Kom ons draai die geskiedenis terug tot 1 Junie 1970. Suid-Afrika se eerste Holiday Inn word by Hluhluwe geopen. Koerant- en tydskrifmense van oor die land word per lendelam Dakota aangekarwei vir ‘n sogenaamde Bacchusfees, kompleet met feesgewade en al smullende op die naat van ons rûe aan druiwetrosse en ander versnaperinge terwyl ons met ons “goue” drinkbekers die een glasie na die ander saam met Caesar klink. (Caesar se van was Lewis; voornaam het my ontgaan.)

 Kameras het die hele aand geflits.    Op een foto verskyn die gelakende Van D’s saam met die Hennie Cronje’s (Hennie was redakteur van Sarie) Piet van Niekerks  (Piet was nuusredakteur van Die Burger),  Kobus Louws (Kobus was skepper van bekende TV-reekse soos Slampampersirkus) en Koos van der Merwes (Koos was ‘n bekende vryskut-joernalis).  Saam met ons op die foto hierbo, vurk in die hand, is die weduwee Louw.

 O ja, my pakkie Rembrandt van Rijn (30’s) was veilig bo in my onderbroek gesteek, soos die atletiese meisiekinders op die tennisbaan deesdae ewe openhartig met die ekstra balle doen.  Hulle het nie ‘n skaam haar in hul broeke nie, lyk dit.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page