top of page
  • Uitmelkbos

SOMMER ‘N SUURPRUIM?

Mooi staaltjie op vanoggend se boekeblad in Die Burger oor dr. Albertus van Rhyn se afwyking van ‘n voorbereide toespraak terwyl hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen was. Naas Steenkamp (oud-“laventelpister”/lid van die diplomatieke diens) vertel daarvan in sy boek “Op ‘n galop na Buckingham-paleis”, wat deur Martie Retief geresenseer word.

In die toespraak, voorberei deur Steenkamp, sou die HK (deesdae ambassadeur) uitwei oor Suid-Afrika se pad vorentoe onder apartheid. Hy steek toe die toespraak in die sak, met dié woorde: “I can’t see what my secretary wrote here”. Hy begin toe die grap vertel van Cleopatra wat in die woestyn is en Marcus Antonius wat aan haar tent kom klop. Cleopatra vra: “Who’s there?” Marcus Antonius antwoord: “Lady, I did not come to make a speech”.

Dieselfde gehoor, toe skaterend, is ingelig oor boererate. “Niks is beter as suurpruim nie as ‘n mens dalk sukkel om ‘n stiff upper lip te hou.” Van Rhyn het aan die einde staande applous gekry.

Darem jammer Martie (en seker dan ook Naas Steenkamp self) noem hierdie joviale Namakwalander net ‘n “eertydse politikus”. Hy was dit inderdaad ook, maar hy was 23 jaar redakteur van my ou koerant, Die Volksblad, in Bloemfontein. Van 1923 tot 1948. Meer joernalistieke bloed in daardie are as politieke bloed, sou ek reken!

Oor wie se skuld dit is dat die arme Volksblad (soos hy al jare heet) nie altyd raakgesien word nie, sal ‘n mens kan debatteer, maar hy word taamlik gereeld misken.

Sondag was in Rapport ‘n korreksie oor die verkeerde antwoord op ‘n leidraad in sy

Blokkiesraaisel waarin Volksblad ook aan die kortste ent trek. Die antwoord wat verlang word is dat Die Burger die oudste Afrikaanse koerant is. Hy is natuurlik nie. Daardie onderskeiding behoort aan Die Volksblad/Volksblad, wat sy ontstaan as Het Westen op Potchefstroom gehad het. Daar het hy in 1915 Het Volksblad geword. Sy rolpers is in 1916 per ossewa na Bloemfontein gebring op advies van genl. C.R. de Wet – romantiese storie.

Volksblad het dus in 2004 al sy hondertal gehaal; Die Burger (en die Nasionale Pers) se eeufees is eers in 2015. En amper ‘n kwart van daardie eerste 100 jaar was Albertus van Rhyn in die stoel (ek en Bart Zaaiman saam vir ‘n tweede kwart!).

Die 12 jaar dat ek in Bloemfontein redakteur was, van 1980 tot 1992, ag ek nog altyd as goue en gelukkige jare. Daardie koerant het veel om te roem. Sy veelbewoë geskiedenis verdien nie om onder die mat ingevee te word nie. Of is ek nou sommer ‘n “suurpruim”?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page