top of page
  • Uitmelkbos

Somme en krete

AJ Opperman skryf oor Stiletto’s van staal, deur Bernette Bergenthuin. (Boeke24) Alles wat AJ Opperman van die boek en sy inhoud sê, laat my dink dat hy oorvriendelik is in sy slot.

Tom Gouws resenseer Al die lieflike dade, deur Charl-Pierre Naudé (Boeke24) Kan ’n mens anders as regop sit sodra jy hierdie resensie gelees het? “Daar verskyn selde in enige taal só ’n digbundel,” eggo Tom Gouws die taksering wat André P. Brink van Ernst van Heerden se Die swart skip gemaak het. Teen die tyd wat Gouws dié woorde skryf, weet mens presies hoekom hierdie bundel een van daardie gaan wees wat in die jare wat kom, gereeld afgestof sal word vir verdere kopreise. Maar nou, voordat jy dit in die hande het, wil jy darem ten minste ’n paar reëls lees om Naudé self te kan weeg – en dan is daar te min aanhalings. Dit sal my nie afskrik nie, maar terwyl Gouws, self ’n digter, ons aandag het, kan hy gerus meer van Naudé se meesterskap ten toon stel om ons te oortuig van sy eie argument.

Thys Human resenseer Buys, deur Willem Anker. (Boeke24) Ek weet nie hoe ’n rifrughond se ysingwekkende tjank klink nie, maar as Thys Human sê Willem Anker se Buys sal op dieselfde manier as daardie tjank by mens spook, dan moet dit ’n skitterende roman wees. Nie alle resensente kan ’n klinkende slotsin skryf nie, en Human herinner mens hoe ’n integrerende en noodsaaklike deel dit van die hele resensie is. As die betoog wat die voorafgaan sterk is, soos hier, dawer daardie slotsin, 100% in die kol. As die betoog vooraf flou en onseker is, sal dit onvanpas klink en jou laat wonder oor die resensent.

Rudolf Stehle resenseer Woorde roes in die water, deur Clinton V. du Plessis. (Boeke24) Stehle is die tweede resensent wat die digter daarop wys dat hy ’n ekstra paar oë nodig het om na sy gedigte te kyk voordat hy hulle publiseer. Veertig van die 120 gedigte is onafgerond en kort nog werk. Niks anders wat hy in die resensie sê weeg swaarder as daardie sommetjie nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page