Sulke gras-weelde het ek nog nie in Sabiepark gesien nie. Tot teenaan die paaie strek ‘n groen tapyt van soetgras. In die skaduwee van die welige bosveldbome wieg die pluime in die wind. Dis buffelsgras, bloubuffelsgras, vingergras, steekgras, Rhodesgras en wilde sorgum; veels te veel om, met jou neus in ‘n veldgids, eens naastenby te probeer eien.
‘n Namakwalande L.V. het in die jare 60 in die Volksraad ingenome verklaar dat die waaigras in sy kontrei daardie seisoen “broekbandhoog” staan. Daardie maatstaf is buite my ervaringsveld. Ek is ‘n kruisband- of sommer ‘n gewone rekkieman. Maar die eerste middag al is tien blouwildebeeste by Tarlehoet verby op galop. Net hul rûe het uitgesteek.
Die lang gras kielie ook die koedoes en sebras se pense. Die duikers, bosbokke, rooibokke, vlakvarke en ander kleinwild raak daarin weg. Op elke kronkelende motorpaadjie vee jou voertuig die halms plat.
Ja, die bos skitter. Die vlaktevlam gloei soos ‘n rooi muur. Die huilbome is oortrek met geel kelke. Die haak-en-steek se wit sambrele sprei oper en oper. Klimop gooi oral sy geel kombers.
Die oes van dié somer was groot, in die plante- en diererryk. Die groot num-nums dra nog swaar aan hul rooi “pruime”. Baba-rooibokkies huppel uitbundig. Vier-vier vlakvarkies draf stertjie-in-die-lug agter hul mammas aan. ‘n Kordate kameelperdjie staan sy staan ongejaagd in die pad. Klein geitjies skarrel oor die stoep.
Van die pragtige bloukuifkloeries met hul blou en rooi Josefsklede hoor jy net die “kok-kok-kok” in die hoë boomtakke. Ook die die groenvlekduifie “doe-doe-doe” onsigbaar sonder ophou, en sy beurtsang met die wegkruiper piet-my-vrou is musiek op die oor.
Die bosveldvisvanger sien jy darem soms. Hy oortref homself met sy welluidende “trrp -trrrrr, trrp-trrrr”. Dié mooi voël en die vleiloerie roep saam die reën, glo party. Dalk besing hy net die natuur – ‘n lied van geluksaligheid oor die somer se oorvloed: die geil gras, ruie plantegroei, bome propvol vrugte en peule, die Sabierivier se strelende musiek …
Wat sou die geheim wees vir só ‘n blomjaar? Klaarblyklik reën, reen, reën. Nie net genoeg reen nie, want November/Desember is tradisionele reënmaande en was tevore al natter. Die antwoord is eerder: konstante reën, reg versprei, met op die kop sewe reëndae elke maand. Op 14 November is 95 mm aangeteken en ‘n maand later, op 14 Desember, 75 mm.
En die “bloedige” hitte? Met ons aankoms op 26 Desember was dit drukkend, maar daardie nag het 8 mm geval. Daarna het die kwik net twee dae tot die hoë 30’s geklim. Dae lank was dit bewolk en een aand was die briesie selfs koel. Maar bewolk of nie, was die swembadjie verfrissend en het die sjoer-sjoer van die dakwaaiers verraai watter seisoen dit was.
Statistieke van Sabiepark wat ek noukeurig byhou, is hoeveel kollegas, skool- en studentemaats al kom kuier het. Hierdie keer het Tukkiemaat Piet Henning en sy vrou, Moraig, uit Louis Trichardt (ook met wortels in Chiredzi in Zimbabwe) die eerste keer gekom. Cas en Nella Jacobs van Centurion was al ‘n paar keer daar. Kollegas staan nou op tien, studentemaats op ses en skoolmaats op vyf.
Die duikers, nagapies, bosnagape, vlakvarke en dies meer het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Ook nie hierdie keer nie. ‘n Duikertjie en bosbokrammetjie het om die beurt kom kuier. ‘n Grootoog-nagapie was in die stoep se nok. Hy en sy maats was ná skemer baie aktief. Drie bosnagape het vol afwagting opgedaag en oor stoele en tafels geklouter op soek na piesang. As jy maar sien, het ‘n vlakvark om die hoek geloer.
Woensdagaand 6 Januarie was die Van Deventers, Hennings en Jacobse saam om die vleisbraaivuur. Feestelik was dit om ou stories op te diep terwyl die Sabie op sy pad Mosambiek toe egalig-rustig oor die klippe druis, hiënas roep en leeus in die verte brul.
Donderdagoggend toe Cas en Nella ry, swiep ‘n visarend laag en roep sy melankoliese roep – ‘n “sense of occasion” soos min!
コメント